6 Februarie 2025
Daar heers uiteenlopende reaksie oor die staatsrede wat vroeër vanaand deur president Cyril Ramaphosa in Kaapstad gelewer is.

Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula het aan Pretoria FM se verslaggewer, Anton Meijer gesê dit is jammer dat Amerika “ons mooi nasie veroordeel op grond van valshede wat versprei word.” Dit nadat Amerika se president, Donald Trump vroeër homself uitgelaat het oor die onteieningswet wat deur Ramaphosa onderteken is.
Die leier van ActionSA, Herman Mashaba het die staatsrede as ‘n verspeelde geleentheid bestempel. Hy sê die feit dat die president “spog” oor die feit dat 28-miljoen Suid-Afrikaners maatskaplike toelae ontvang is lagwekkend, en meen geen president behoort op hierdie getal trots te wees nie.

Die leier van die DA, en minister van landbou, John Steenhuisen, sê hy is bly dat Ramaphosa gepraat het oor die kwessie van werkloosheid, en hoe die ekonomie versterk gaan word. Hy sê as hy punte moes gee, sou hy vir dié staatsrede ‘n agt uit tien gee.
Volgens Steenhuisen kan hy nie volpunte vir die staatsrede gee nie omdat hy nie die dringendheid by die president gesien het nie. Hy het ook die erkenning wat Ramaphosa aan die DA-ministers se werk binne die RNE gegee het, verwelkom.
“Ek is baie trots om ‘n party te kan lei wat binne die RNE hard werk om ‘n verskil in die land en sy mense se lewens te maak.” Volgens hom is die RNE besig om die ekonomie te red.
Die MK-LP, Mzwanele Manyi, het sonder om te skroom, die staatsrede as ‘n mors van tyd beskryf. Volgens Manyi het Ramaphosa soos in die verlede net leë beloftes gemaak.

“Die man [Ramaphosa] is net ‘n dromer.” Op ‘n vraag oor hoeveel punte hy vir Ramaphosa se staatsrede sou gee, meen Manyi die staatsrede verdien ‘n minus een uit 10 punte.
Hy sê die MK-party wou net die waarheid hoor, maar die president het volgens Manyi net leuens versprei.
Die VF Plus-LP en parlementêre leier, dr. Corné Mulder sê die party gehoop dat Ramaphosa die land eerste sou plaas, maar meen dit het nie gebeur nie.
Hy meen wat hoop moes bring vir die toekoms, het eerder vrae geskep oor die president se erns om die partye in die RNE as gelyke regeringsvennote te behandel. Volgens Mulder was Ramaphosa vanaand eerstens die president van die ANC en tweedens is hy besorg oor Suid-Afrikaners.
Die bestuurshoof van Solidariteit, dr Dirk Hermann sê die staatsrede van Ramaphosa was ‘n ramp. Hermann meen Suid-Afrika is onder aanval oor sy rasbeleid.
“Ons moet Suid-Afrika red van die roekelose ANC. Solidariteit gaan die regering se rasbeleid en die rasfonds trompop loop.”