President Cyril Ramaphosa het hom tot die hooggeregshof in die Wes-Kaap gewend om die verslag van die onafhanklike paneel oor die Phala Phala-gebeure nietig te laat verklaar.
Hy het sy aansoek vroeg Dinsdag ingedien.
Ramaphosa voer aan dat die paneel sy mandaat misken het, die beskikbare inligting foutief beoordeel het, en die vier aanklagte teen hom verkeerd geïnterpreteer het.
Dit volg nadat die konstitusionele hof onlangs beslis het dat die parlement nie die verslag mag ignoreer nie en dat die parlement se verwerping daarvan ongeldig was.
Die Nasionale Vergadering is besig met die daarstelling van ’n komitee om die aangeleentheid te ondersoek.
Die ontheffingskomitee sal besluit of Ramaphosa in ’n staat van beskuldiging geplaas moet word. Ramaphosa het vroeër aangedui dat hy nie sal bedank nie.