President Cyril Ramaphosa sê hy sal nie bedank nie.
Die president – wat die land kort ná 20:00 oor sy planne na afloop van die Konstitusionele Hof se uitspraak oor die Phala-Phala-aangeleentheid toegespreek het – sê dit sal voortydig wees om dié stap te doen.
Ramaphosa sê hoewel daar in sekere kringe oproepe was dat hy die tuig moet neerlê, is daar niks in die hofuitspraak wat hom verplig om uit sy amp te bedank nie.
“Die uitspraak van die Konstitusionele Hof versterk inteendeel die beginsels, regte en prosesse waarop ons grondwetlike bestel berus. Dit sluit uitdruklik die reg in om die verslag van die onafhanklike paneel op hersiening te neem. Ek wil dit daarom met respek duidelik stel dat ek nie sal bedank nie. As ek dit sou doen, sou dit ’n proses wat deur die Grondwet bepaal word vooruit loop en sou dit geloofwaardigheid aan ’n paneelverslag verleen wat ernstige gebreke bevat,” het Ramaphosa gesê.
Hy het ook aangekondig dat hy die Phala Phala-paneel se verslag op hersiening sal neem.
Ramaphosa sê dat hy in Desember 2022, toe die paneel sy verslag ingedien het, nie met die bevindinge saamgestem het nie. Gevolglik het hy die hof genader om die paneel se verslag te hersien.
Hy is egter meegedeel dat die verslag op verskeie gronde op hersiening geneem kon word, maar die uitslag van die stemming in die Nasionale Vergdering in Desember 2022 het verhoed dat dit regsgevolge gehad het, daarom het hy nie met die hersieningsproses voortgegaan nie.
Hy het egter gesê dat hy sy reg voorbehou om hersieningsprosedures in te stel indien enigiets verander.
“Sedert die uitspraak het ek besin oor wat dit vir die land, vir die oppergesag van die reg en vir die posisie wat ek beklee beteken. Dis in hierdie onseker tye wat ons Grondwet ons kompas moet wees,” het Ramaphosa gesê.
Hy hou vol dat hy nie openbare geld gesteel of enige misdryf gepleeg het nie en deurlopend sy samewerking aan alle instellings gegee het.
Die hof het bevind dat die parlement strydig met die Grondwet opgetree het toe die onafhanklike Artikel 89-paneel se verslag oor Ramaphosa se optrede met betrekking tot die diefstal in 2020 op sy plaas, verwerp is. Volgens die verslag is daar ’n prima facie-saak teen die president.
Die EFF, ActionSA en die ATM-party het sedertdien geëis dat Ramaphosa as president bedank, terwyl die MK-party ’n mosie van wantroue in hom wil instel.
Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, het vroeër bekend gemaak dat ’n komitee tot stand gebring gaan word wat sal besluit of Ramaphosa in ’n staat van beskuldiging geplaas sal word.
Reaksie
Die leier van die DA, Geordin Hill-Lewis het in reaksie op die president se aankondiging gesê dat president Ramaphosa se besluit om die Artikel 89-paneelverslag op hersiening te neem nie gebruik mag word om die parlement se werk te vertraag nie.
“President Ramaphosa behoort enige hersieningsaansoek met die nodige dringendheid en met rasse skrede te bring, sodat die regsposisie gou uitgeklaar kan word en hierdie saak nie onnodig vertraag word nie. Die parlement moet nou ook dringend regsadvies inwin oor die gevolge van die president se hersiening, insluitend of dit die daarstelling en werk van die vervolgingskomitee beïnvloed en of die komitee kan voortgaan terwyl die hersiening aan die gang is,” sê Hill-Lewis.
Hy sê verder dat die parlement die publiek in sy vertroue moet neem en daardie regsadvies openbaar moet maak, gegewe die ernstige grondwetlike gevolge van die saak en die openbare belang daarvan.