’n Skildery deur Vincent van Gogh, wat hy in die laaste twee maande van sy lewe geskilder het, is vir meer as $190 miljoen (ongeveer R3,27 miljard) by ’n veiling in New York verkoop.
Dit is ’n rekordbedrag vir ’n werk deur dié Nederlandse kunstenaar. Die vorige rekordprys vir sy Boord met sipresse-skildery, is in 2022 vir $117,2 miljoen (sowat R2,9 miljard) opgeveil.
Die skildery, Kastaiingbome in blom, is in 1909 deur ’n invloedryke Duitse uitgewer, Samuel Fischer, aangekoop – en in 1936 verkoop. Dit beeld ’n bloeiende kastaiingboom uit, met ’n man wat verby drie vroue in tradisionele Japannese kleredrag stap.
Sy erfgename het beswaar gemaak teen die veiling en aangevoer dat die familie slegs van die skildery afstand gedoen het weens finansiële verliese wat hulle onder die Nazi’s gely het.
Die veilingshuis Sotheby’s het verklaar dat sy eie uitgebreide navorsing nie kon bevestig dat die meesterstuk onder dwang verkoop is nie.
Van Gogh het in die laaste dae van sy lewe teen ’n hoë tempo gewerk en gemiddeld sowat een kunswerk per dag geskep. Hy is kort daarna in die ouderdom van 37 dood, twee dae nadat hy homself in die bors geskiet het.