Luister nou

Laaste week om koalisies te vorm

Deur Redaksie

Die VF Plus se leier, dr. Corné Mulder, tree tans as bemiddelaar tussen ActionSA en die DA op in die hoop om koalisieregerings in die Gautengse metro’s te vestig. Mulder het aan Nuusweek gesê dat daar reeds redelike finaliteit is wat koalisies betref in plekke soos Swartland, Saldanha, Kaap Agulhas, Langeberg en Knysna. Die VF Plus sal ook deel vorm van ’n koalisie in George alhoewel die party nie nodig was om ’n meerderheid te bewerkstellig nie. Onderhandelings op plekke soos Oudtshoorn duur steeds voort.

Mulder sê hy is daagliks met beide ActionSA en die DA in gesprek. Hy sê die mediaberigte dat Helen Zille en Geordin Hill-Lewis dalk plekke as burgemeesters moet omruil, is gegrond op ’n voorstel wat gemaak is, maar dat dit nie tans as ’n opsie beskou word nie. Hill-lewis is intussen Donderdag as burgemeester van Kaapstad verkies.

Mulder sê daar is ’n moontlikheid dat die DA dalk bereid sou wees om die burgemeesterspos in die Tshwane-metro prys te gee, met dien verstande dat daar ’n quid pro quo sal wees en tans lyk dit of ActionSA onverbiddelik is.

Hy sê die VF Plus sal nie met die ANC saamwerk nie.

“Nee, nêrens nie,” beklemtoon Mulder.

Prof. André Duvenhage, ’n politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, waarsku dat politieke partye nog net ’n week oor het om koalisies te vorm. Duvenhage sê dit is vir hom vreemd dat, terwyl gesprekke oor die vorming van koalisies in volle gang is, president Cyril Ramaphosa besoek aflê aan Silicon Valley in die VSA.

Hy meen die onlangse vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) het daarop gedui dat die grootste deel van die party se leierskap verkies om met linkse partye saam te werk. Dit sluit partye soos die EFF en die SAKP in.

“Ek sien ’n duidelike prentjie van die ANC as die sentrumparty met ActionSA as strategiese vennoot en ander kleiner partye as vennote.”

Duvenhage reken dit is moontlik dat die ANC die burgemeesterspos in Johannesburg en die Tshwane-metro aan ActionSA oorlaat.

Duvenhage sê ten spyte van die magsverskuiwings wat met die onlangse verkiesing plaasgevind het, het dit ’n klein impak wanneer daar na moontlike regeringsveranderings gekyk word. Na sy mening word die boodskap wat tydens die verkiesing op voetsoolvlak gestuur is, steeds deur die elites oorskryf.

Volgens Duvenhage is die skrif aan die muur vir die Regering van Nasionale Eenheid (RNE).

“Tot watter mate is die RNE volhoubaar binne die patroon, of is die doodskrif vir die RNE reeds geskryf?”

Die DA het intussen ‘n koalisie-ooreenkoms in die munisipaliteit van Beaufort-Wes en Sentraal-Karoo bereik. Die DA sal met die Karoo Democratic Force (KDF), People’s Movement for Change (PMC) en Community First Party (Pik & Graaf) saamwerk. Euna Wentzel van die DA sal die burgemeesterspos beklee, Sharifa Essop van die PMC sal adjunkburgemeester wees en Noel Constable van die KDF sal die speaker wees.

 

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/11/NUUSWEEK-Uitgawe-94-20-Nov-2026.pdf

Gewilde Nuus

Fotokrediet: CNN

Alaska-dorp maak gereed vir 65 dae sonder sonlig

Fotokrediet; Arrive Alive

Valke vind nog ‘n dwelmvervaardigingslaboratorium

Paspoort

480 banktakke verwerk nou paspoorte

Firoz Cachalia

Cachalia in Desember voor die Madlanga-kommissie

Rama & Musk - BusinessTech

Ramaphosa vra Musk se hulp

Ander Nuus Artikels

Chestnut Trees in Blossom
Van Gogh-skildery vir $190 mil. verkoop
Geordin
Hill-Lewis wéér Kaapse burgemeester
Fotokrediet: CNN
Alaska-dorp maak gereed vir 65 dae sonder sonlig
Fotokrediet; Arrive Alive
Valke vind nog ‘n dwelmvervaardigingslaboratorium
Paspoort
480 banktakke verwerk nou paspoorte

Luister nou