Pretoria FM het saam met Krispy Kreme by Wonderboom-Suid Skool gaan kuier om Onderwysersdag op ’n spesiale manier te vier. Die skool se gange was gevul met lag, musiek en die soet geure van vars oliebolle — alles om dié mense te eer wat elke dag hul harte vir kinders gee.
Een van die hoogtepunte van die besoek was ons gesprek met Juf. Elize Pieterse, wat reeds 40 jaar in die onderwys is. Met trane van dankbaarheid het sy vertel dat haar loopbaan hierdie jaar tot ’n einde kom.
“In die begin was onderwys ’n eer. Dit was ’n edele beroep,” sê sy met ’n sagte glimlag.
Haar passie en toewyding het almal in die vertrek diep geraak.
Ons het ook met die skoolhoof, Rina Pretorius, gesels oor die groei van haar personeel sedert Wonderboom-Suid van ’n hoofstroomskool na ’n skool vir leerlinge met spesiale behoeftes verander het. Haar antwoord was inspirerend:
“Ek is só trots. Hulle het soos superhelde in opleiding begin en nou is hulle volwaardige kampioene wat enige uitdaging aanpak – selfs al beteken dit dat hulle tien keer per dag dieselfde vraag moet beantwoord.”
Sy beskryf haar span in drie woorde: Stout, energiek, kreatief (en koffieverslaafdes).
Pretoria FM en Krispy Kreme het saamgespan om vir elke onderwyser ’n bietjie soetigheid te bring — Pretoria FM-oliebolle wat die dag perfek afgerond het, want soos ons almal weet: onderwysers is die fondament van ons samelewing en verdien elke dag opregte dankies en die lekkerste oliebolle. 🍩