Die voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor polisie, Ian Cameron, sê die jongste bewerings van die polisiekommissaris in KwaZulu-Natal, luitenant-generaal Nhlanhla Mkhwanazi oor politieke inmenging in die polisie wys moontlik op ’n gekaapte SAPD.
Hy het vroeër vandag tydens ‘n mediakonferensie by die parlement gesê indien ’n voorlopige ondersoek die bewerings bevestig, moet alle betrokke partye, insluitend die minister van polisie Senzo Mchunu, geskors word om die integriteit van die ondersoek te beskerm.
LEES OOK: Ramaphosa sal ingryp by geskil tussen Mkhwanazi en Mchunu
Cameron meen die polisie se vertroue is in die slag en het ’n dringende oudit van die polisiebestuur en misdaadintelligensie-eenheid geëis, sowel as ’n parlementêre debat oor die polisiediens se integriteit.
Hy doen ’n beroep op president Cyril Ramaphosa om dringend ’n ondersoek van stapel te stuur.
Dit kom nadat Mkhwanazi gister in ‘n mediakonferensie die minister onder meer van politieke inmenging beskuldig het.
Hy het ook beweer dat die polisie se taakspan wat politieke moorde ondersoek het, ontbind is omdat hulle ’n sindikaat ontmasker het met bande met politici, wetstoepassers, aanklaers en regters.
Cameron sê Mchunu moet die beweringe voor die komitee in die parlement kom verduidelik.