Die Nasionale Tesourie waarsku dat munisipaliteite wat versuim om diensverskaffers te betaal, steeds hul billike aandeel van staatsbefondsing kan verbeur.
Die minister van finansies, Enoch Godongwana het in Julie die toewysings aan 69 munisipaliteite teruggehou.
Volgens Tesourie se direkteur-generaal, Duncan Pieterse, het 38 van dié munisipaliteite daarna betalingsreëlings met krediteure getref en skuld van meer as R4 miljard vereffen.
Pieterse sê ander regeringsfere skuld munisipaliteite egter steeds R27,6 miljard.
Wysigings aan die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur word beplan om finansiële wanbestuur strenger te bekamp, toesig oor aanstellings te verskerp en vroeër in te gryp waar munisipaliteite finansieel sukkel.