Die minister van korrektiewe dienste, dr. Pieter Groenewald, het gister in die parlement gesê dat drastiese planne oorweeg moet word om die verskeie probleme binne die land se strafregstelsel onder die loep te neem.
Groenewald het gister sy departement se begroting aan die parlement voorgelê. Volgens hom is een van die groot probleme bendegeweld en het aan parlementslede die vraag gestel of “lyfstraf in Suid-Afrikaanse tronke ‘n terugkeer behoort te maak?”
Hy sê misdaad is buite beheer met kinders so jonk as 10 jaar oud wat gevangenisstraf moet uitdien omdat hulle brood steel.
Volgens hom is hy reeds ‘n jaar in die pos as minister van korrektiewe dienste en kan hy nie die probleme binne sy departement as minder ernstig afmaak nie.
Groenewald het verder gesê hy is ook bekommerd oor oorbevolking en personeeltekorte binne tronke. Volgens hom is sy departement se begroting van R29,2-miljard vir die 2025/2026-boekjaar onvoldoende.
Hy meen die begrotingsbesnoeiings sal veiligheid, toerusting en die kwaliteit van voedsel negatief beïnvloed. Groenewald meen ‘n kapitaaltekort van R222-miljoen kniehalter infrastruktuur en instandhouding, terwyl meer as 60 000 verhoorafwagtendes druk op fasiliteite plaas.
Die meer as 24 000 buitelanders in die land se gevangenisse kos die staat R460 per dag per gevangene, of R11-miljoen per dag vir al die buitelanders.
Van sy ander planne vir die begrotingstekorte sluit selfonderhoudende projekte in, soos bakkerye en plaasproduksie wat ‘n R157-miljoen rand bespaar.
One Response
Bring lyf straf terug dit sal baie probleme oplos.