Nuuskommentaar: 2 Junie 2023
Deur: Flip Buys
Die “nuwe” Suid-Afrika het in 1994 op die grondslag van “nie-rassigheid” in artikel 1 van die Grondwet tot stand gekom. Die uitgangspunt was dat rassediskriminasie onregverdigbaar en selfs krimineel is. Daar sou voortaan gelykheid vir almal wees, ongeag ras. Hoewel “positiewe” maatreëls gewettig is om ongelykhede aan te pak wat uit die verlede voortspruit, is daar bepaal dat daar nie “onbillik” gediskrimineer mag word nie.
Hierdie voorsiening vir sogenaamde positiewe maatreëls is in 1998 in die mooiklinkende Wet op “Diensbillikheid” opgeneem. Die ANC het gereeld die Afrikaanse begrip “regstellende aksie” gebruik, omdat dit so selfregverdigend is en bykans vanselfsprekend reg en billik klink.
In die praktyk het die wetgewing egter uit die staanspoor baie verder as “regstelling” gegaan en uitdruklik “verteenwoordigendheid” nagestreef. Die wet het naamlik bepaal dat die einddoel moes wees dat die bevolkingsamestelling in alle posvlakke weerspieël moes word waar swart mense “onderverteenwoordig” was. In die praktyk het dit daarop neergekom dat daar rasseteikens moes wees waar daar te “min” swart mense in die hoër en middelste posvlakke was. Daar was egter nie sogenaamde “wit” teikens vir die grootste deel van die werksmag nie, naamlik die laer posvlakke waar byvoorbeeld wit jongmense “onderverteenwoordig” was. Dit het dit vir wit jongmense moeilik gemaak om in die intreeposvlakke werk te kry, byvoorbeeld as vakleerlinge of leerlingverpleegsters.
Hierdie wetgewing en die politieke klimaat wat dit geskep het, het daartoe gelei dat derduisende bekwame en ervare wit werknemers in die staatsdiens, openbare ondernemings en maatskappye nooit vir aanstelling of bevordering in aanmerking gekom het nie, of dat hulle met pakkette uit diens gestel is. Omdat die nuwe rasseteikens veel hoër as die beskikbare poel van toepaslik opgeleide en ervare swart werknemers was, is talle van hierdie poste met minder ervare of swakker opgeleide mense gevul. Tesame met kaderontplooiing en swak bestuur het dit noodwendig tot die ineenstorting van groot dele van die staatsdiens en openbare ondernemings soos Eskom bygedra.
Hierdie wetgewing het ook die betekenis van “gelykheid” omgekeer. Gelykheid het nou nie meer ’n “gelyke wegspring” beteken nie, maar dat almal “gelyk” by die wenpaal moes uitkom, volgens elke rassegroep se bevolkingsaandeel. Die staat en talle werkgewers het baie keer selfs nog verder as die wetgewing gegaan deur wit en bruin mense van werksgeleenthede uit te sluit. Solidariteit het met ’n groot aantal sake hof toe gegaan en kon verskeie daarvan wen. Desondanks het die Konstitusionele Hof die beginsels van radikale transformasie en rasseverteenwoordigendheid in verskeie uitsprake bevestig.
Daarby het die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) onlangs ’n “Indeks van Rassewetgewing” bekendgestel. Dit behels ’n deeglike opname van al die nuwe rassewette wat die ANC ná 1994 deur die parlement geloods het. Dit toon dat daar in totaal ’n verrassende 116 rassewette deur die huidige parlement ingestel is, en dat ’n totaal van 132 rassewette tans in die land van krag is! Dit maak ’n bespotting van die grondwetlike aansprake op “nie-rassigheid”. Die onvermydelike slotsom is dat die rassebedeling nie afgeskaf is ná 1994 nie, maar bloot onder nuwe bestuur geplaas en omgekeer is. Suid-Afrika het inderdaad vanaf die “beste Grondwet ter wêreld” na die mees rasgereguleerde land ter wêreld geval.
