Nafiz Modack is vandag tot 10 jaar tronkstraf in die Kaapse streekhof gevonnis. Drie jaar van die vonnis is vir vyf jaar opgeskort op voorwaarde dat Modack nie weer in daardie tydperk aan korrupsie skuldig bevind word nie.
Hy is ook ongeskik verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Modack is op 7 Junie aan korrupsie skuldig bevind, nadat die hof bevind het dat hy ‘n korrupte verhouding met Colin Govender, ‘n oudbrigadier van Kaapstad-Sentraal gehad het.
Hy het omkoopgeld aan ‘n middelman betaal wat hy geglo het aan ‘n voormalige generaal-majoor van die polisie, Jeremy Vearey, sou gaan.
Volgens die hof is daar geen redelike vooruitsig vir rehabilitasie vir Modack nie. Die staat het ook aangevoer dat daar geen rede is om van die minimum vonnis van 15 jaar af te wyk nie.