Deur: Jaco Kleynhans
ʼn Mens kan sekerlik sê dat die Withuis se drumpel sedert Donald Trump se inhuldiging 100 dae gelede as die 47ste Amerikaanse president, behoorlik deurgetrap is. Vir baie wêreldleiers is dit egter nog ’n groot uitdaging om die Trump-landskap te navigeer. Die afgelope paar weke se instelling en daarna effense uitstel van invoertariewe op goedere uit die meeste lande in die wêreld, het reuse-uitdagings vir wêreldleiers geskep. Veral in Europa en by die Europese Unie, histories een van Amerika se belangrikste bondgenote, het daar groot kommer oor ’n potensiële handelsoorlog tussen die VSA en Europa ontstaan. Dit sou vir Europese lande, wat reeds die afgelope drie tot vier jaar met lae ekonomiese groei, hoë staatskuld en hoë inflasie gesukkel het, verdere ekonomiese kopsere kon besorg.
Verlede week was dit nie die president van die Europese Kommissie of die staatshoofde van die twee grootste ekonomieë in die EU, Duitsland en Frankryk, wat na die Withuis gereis het om oor die bedreiging van invoertariewe en ’n handelsoorlog te gaan praat nie, maar die Italiaanse eerste minister, Georgia Meloni. Tydens dié ontmoeting was dit duidelik dat Meloni, ongewoon vir ʼn Italiaanse leier, nou by uitstek die top- Europese leier is wat verhoudinge tussen Europa en die VSA help navigeer.
Vanaf 1946, ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog, tot 2022 het Italië altesaam 30 eerste ministers, almal mans, gehad. Dit is byna ’n nuwe eerste minister elke tweede jaar. Dekades lank was Italië bekend vir sy onstabiele regerings, swak leierskap en ekonomiese uitdagings wat dié land laat afsteek het by lande soos Duitsland, Frankryk en die Verenigde Koninkryk. Italiaanse regerings het dikwels binne ’n jaar of twee tot ’n val gekom weens korrupsie, onbekwaamheid, een of ander skandaal of bloot politieke onenigheid.
In Oktober 2022 het Georgia Meloni op 46-jarige ouderdom die tweede jongste eerste minister in die na-oorlogse Italië, maar natuurlik ook die eerste vrou in dié posisie geword. Nog belangriker egter is dat Meloni die konserwatiefste en selfs regsste eerste minister in Italië sedert die Tweede Wêreldoorlog is. Meloni het in 2012 haar eie party, die Broederskap van Italië, as ’n nasionaal-konserwatiewe party opgerig. In die verkiesing van September 2022 het haar party byna een derde van die stemme gewen en gemaklik die grootste party in Italië geword. ʼn Maand later het Meloni ’n koalisieregering gevorm met nog twee regse partye om daardeur die mees regse regering sedert die einde van die fascistiese periode in Italië daar te stel.
Nou, twee en ’n half jaar later, is Meloni steeds gewild in Italië, haar driepartykoalisie is stabiel en sy geniet wye steun in ’n nuwe, groterwordende Westerse beweging van politieke leiers, organisasies en denkleiers wat konserwatiewe waardes, die behoud van die Westerse beskawing en die soewereiniteit van nasiestate voorstaan. Meloni toon deurgaans intellektuele diepte, het ’n groot respek vir die bekende Britse konserwatiewe denker Roger Scruton, en toon sterk leierskap enersyds in Italië deur dié land se nasietrots te herstel en duidelik op die soewereiniteit van Europese lande te fokus. Meloni bied ’n sterk alternatief tot die sentralistiese en globalistiese denke in Brussel en daag dikwels Europese leiers uit om anders te dink oor die toekoms van Europese nasies en die Westerse beskawing.
Dit maak dus heeltemal sin dat Meloni by uitstek geskik is om Europese onderhandelinge met die VSA te lei, of sy nou ’n algemene Europese mandaat het of nie. Die Franse president, Emmanuel Macron, is uiters ongewild en Duitsland kry binne enkele dae ’n nuwe bondskanselier. Die EU se onverkose kommissie-president, Ursula von der Leyen, boesem ook min vertroue by talle Europese leiers in.
Tydens die ontmoeting met Meloni was Trump positief oor onderhandelinge tussen die VSA en Europa, en het hy self voorspel dat ’n ooreenkoms vir 0%-invoertariewe tussen die VSA en Europa bereik kan word, wat handel tussen die twee partye selfs verder kan laat toeneem. Trump was vol lof vir Meloni. Ook sy adjunk, JD Vance, was enkele dae gelede in Rome waar hy ook met Meloni ’n ontmoeting gehad het. Vir Italië is daar self groot voordeel in sterker bande met die VSA, veral omdat die Italiaanse ekonomie dringend meer buitelandse beleggings in nuwe bedrywe benodig.
Meloni sal teen September 2027 by die stembus in Italië getoets word. Op die oomblik lyk dit egter of Italianers sterk vertroue in haar het. Sy is ook toenemend ’n bron van inspirasie vir Westerlinge wat glo in die terugkeer na tradisionele Christelike Westerse waardes, die herstel van lande se soewereiniteit en nasionale belang én groter samewerking tussen Westerse lande wat nie ondermynend is nie. Ná Meloni se besoek aan die Withuis, is sy nou onteenseglik die sterkste en gewildste staatshoof in Wes-Europa. Dit skep groot geleenthede vir haar en die nasionaal-konserwatiewe beweging wat sy toenemend in Europa lei.
Kleynhans is hoof van openbare skakeling by Solidariteit.