Byna ’n miljoen matriekleerlinge landwyd maak gereed vir die 2026 Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen, wat vandag met Rekenaar-toepassingstegnologie begin.
Altesaam 123 vraestelle sal geskryf word, met die eksamenreeks wat op 25 November eindig.
Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sê strenger veiligheidsmaatreëls is ingestel om die integriteit van die eksamen te beskerm.
Die Gautengse regering doen intussen ’n beroep op gemeenskappe om nie die matriekeindeksamen te ontwrig nie.
Altesaam 203 794 kandidate sal na verwagting die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen by 1 065 sentrums in die provinsie aflê.
Die provinsie se premier Panyaza Lesufi moedig ouers aan om ’n rustige studie-omgewing te skep en leerlinge te ondersteun.
Intussen waarsku die provinsiale departement van gesondheid dat oormatige stres, te min slaap en lang studietye leerlinge se konsentrasie en welstand kan benadeel.
Ouers word aangeraai om bemoediging eerder as druk te bied.