Adjunk-president Paul Mashatile se reis na Japan – in Maart vanjaar – het die belastingbetaler R2,3-miljoen rand uit die sak gejaag – waarvan R900 000 net bestee is aan verblyf vir hom en sy vrou. Dit kom nadat die belastingbetaler meer as R5-miljoen moes opdok vir sy reis verlede jaar na die Verenigde Koninkryk – waarvan meer as R2-miljoen aan verblyf in Londen bestee is. Dié inligting het rugbaar geword uit ‘n parlementêre antwoord op ‘n vraag van ActionSA se hoofsweep, Lerato Ngobeni, wat haar skok uitgespreek het oor die regering se buitensporige uitgawes op Internasionale reise. Volgens ActionSA se berekeninge beloop dit – sedert die RNE net minder as ‘n jaar gelede gevorm is – al meer as R184-miljoen – voordat die jongste syfers bygewerk is. Ngobeni eis nou ‘n antwoord by Mashatile oor sy reise sedert 3 Julie 2024, wat dit gekos het en wat die doel daarvan was. |