Heidelberg was van vroeg vanoggend af in rep en roer, omdat dié dorp met sy Victoriaanse bekoring gedien het as deurgangsroete vir ’n kleurvolle konvooi van meer as 160 klassieke Volkswagen-voertuie, insluitend die ikoniese VW Kewers en Kombi’s.
Dít vorm deel van die Beetle Maniacs se Clarens 2.0 Hippie BUG-fees wat op pad Clarens toe is.
Dié konvooi is ’n eenkeer-in-’n-leeftyd kans om soveel klassieke Volkswagen-voertuie saam te sien. Die konvooi sorg vir kleur en harte wat vinniger klop, veral dié van Volkswagen-fanatici.
Heidelbergers beskryf die konvooi as ’n hoogtepunt van die fees en hulle is gelukkig dat hulle dorp op die spesiale roete ingesluit is.
Die konvooi is deur Christiaan Swanepoel van Heidelberg in sy seldsame 1974 VW Kewer, die “Fun Bug”, gelei.
Hierdie deurgang verteenwoordig ’n belangrike kulturele en historiese gebeurtenis vir motor-entoesiaste en die breër publiek.
’n Wye verskeidenheid van gesogte, klassieke VW-modelle kan besigtig word, insluitend: VW Kewers, klassieke Kombi’s, Beach Buggies en Karmann Ghias, antieke modelle van die VW Golf en Scirocco.
Fotokrediet: Proudly Heidelberg