Die waarnemende minister van polisie, Firoz Cachalia, het die besonderhede van die leefstyloudits van senior polisiebeamptes bekend gemaak in ’n skriftelike parlementêre antwoord op ’n vraag van die DA-LP en woordvoerder oor polisie, Lisa Schickerling.
Cachalia sê dat hulle die afgelope vyf jaar honderde ongerymdhede tydens leefstyloudits ontdek het.
Volgens Cachalia sluit die foute hoofsaaklik versweë maatskappydirekteurskappe in, asook die aankoop van voertuie en eiendomme wat nie met die amptenare se inkomste strook nie.
Die aantal verdagte gevalle het boonop van 77 in 2021 tot 122 vanjaar toegeneem.
Hoewel sekere amptenare weens tekens van onverklaarbare welvaart onder die vergrootglas beland het, sê Cachalia is die meeste teenstrydighede intussen ná oorlegpleging en administratiewe regstellings uitgeklaar.