Die departement van justisie sê dat hulle nie genoeg geld het om die koste van die ses maande lange verlenging van die Madlanga-kommissie, te dek nie.
Die nasionale tesourie het verlede jaar R147-miljoen vir dié kommissie toegeken, waarvan slegs R24-miljoen oor is.
Die minister van justisie en staatkundige ontwikkeling Mmamoloko Kubayi sê egter dat sy reeds die minister van finansies, Enoch Godongwana, genader het om ’n bykomende begrotingstoewysing te oorweeg. Volgens Kubayi is die begroting nie genoeg vir die kommissie wat vir ses maande verleng is nie.
Sy het óók kommer uitgespreek oor die koste van die langdurige Nkabinde-ondersoek na die geskiktheid van die direkteur van openbare vervolgings, Andrew Chauke, om die amp te beklee.
Die hoof finansiële beampte, Rofhiwa Singo, het gesê dat die Madlanga- en Khampepe-kommissies tans goed binne die begroting funksioneer, maar dat meer geld nodig is om die kommissie in staat te stel om sy werk te voltooi.