Eskom het aangedui dat hy gereed is om weer geld te begin leen nadat die regering se verbod op verdere lenings aan die einde van die vorige geldjaar – op 31 Maart – verstryk het.
As deel van ‘n hulppakket van R254-miljard het die regering dié moratorium op verdere lenings geplaas.
Die kragvoorsiener het egter onderneem om die gesamentlike waarde van sy lenings onder die perk van R300-miljard te hou teen die einde van die geldjaar in 2030.
Dit is R111-miljard minder as die R411-miljard aan die einde van die teenswoordige geldjaar.
Eskom het dié inligting bekend gemaak in ‘n voorlegging aan die parlementêre portefeuljekomitee van sy kapitaalbestedings- en finansieringsprogram vir die volgende vyf jaar.