Die DA in Noordwes het ‘n skrywe aan die LUR vir gesondheid, Sello Lehari, gerig met ‘n versoek om dringend in te gryp by die Witrand psigiatriese-hospitaal in Potchefstroom.

Die DA se woordvoerder oor gesondheid in Noordwes, Hendriëtte van Huyssteen sê tydens ‘n oorsig besoek aan die hospitaal is verskeie veiligheids- en gesondheids-risiko’s gevind.
Volgens haar hoop ongewasde, vuil linne en pasiënte se klere op omdat daar slegs een standaard wasmasjien en een industriële wasmasjien is wat werk, en drie werkende tuimeldroërs. Dit is uit die aard van die saak nie genoeg om by te hou met die hoeveelheid wat gewas moet word nie.
Van Huyssteen sê ‘n tussentydse oplossing om die agterstand in te haal is om wasgoed na Klerksdorp of Mahikeng te stuur sodat dit daar gewas kan word. Volgens haar probeer die personeel van die Witrand-hospitaal hulle beste om by te bly met die wasgoed.
Verder het die DA tydens sy besoek gevind dat industriële-grootte ketels, wat gebruik word om kos te kook reeds vir die afgelope drie jaar buitewerking is. In die tydperk was dit ook nie moontlik om warm water en verhitting aan pasiënte se kamers te voorsien nie.
Sy sê 43 geysers moes bekom word net sodat warm water voorsien kan word, en kos moet op gasstowe gekook word.
Daar is ook nie voldoende kringtelevisie-kameras wat werk nie. Sy sê die Witrand-psigiatriese hospitaal is ‘n gespesialiseerde hospitaal wat dienste aan ‘n uiters kwesbare pasiëntkategorie lewer en daarom is dit so belangrik dat alles daar vlot verloop.
Sien die verslag oor die bevindinge hier:
2025-07-04-Correspondence-MEC-and-HOD-and-Portfolio-Chairperson