Redaksie
Die DA-leier, Geordin Hill-Lewis, het vandeesweek in ‘n toespraak gemaan dat die frustrasie wat die publiek weens werkloosheid, korrupsie en misdaad ervaar, nie in haat moet ontaard nie.
Volgens Hill-Lewis is daar diegene wat poog om die uitdagings wat deur ‘n sukkelende ekonomie meegebring word te gebruik om geweld teen buitelanders aan te hits en hulle eie agendas te bevorder.
“As mense onwettig na ons land kom moet die reg toegepas word, maar dit moet gedoen word met die wete dat ons hier met mense te doen het.”
Hill-Lewis sê diegene wat woorde uiter wat hulle weet tot lewensverlies kan lei, moet veroordeel word.
“Die mense is nie leiers nie. Opstokers se woorde beloof slegs geweld en chaos vir ons land. Aan hulle sê ek: Jy praat nie namens die mense van Suid-Afrika nie.”
Hill-Lewis sê Suid-Afrika het in hierdie posisie beland omdat die instellings wat met wetstoepssing getaak is, deur jare van korrupsie en swak regering afgebreek is en omdat die land se ekonomie nie vinnig genoeg groei om werksgeleenthede te skep nie.
“Die werk om hierdie stukkende instellings te herstel is nie maklik of vinnig nie.”
Hill-Lewis sê dreigemente oor geweld en anargie wat met die beplande betogings in die komende week gepaard gaan, is nie aanvaarbaar nie.
“Die wet moet deur die staat toegepas word. Dit is nou die tyd vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Nasionale Vervolgingsgesag om na vore te tree en die wet sonder vrees of voorkeur toe te pas. Geen individu of groep kan spertye stel vir wie in Suid-Afrika mag bly nie. Niemand mag aandring op ‘n ander persoon se dokumentasie op straat nie en niemand mag ‘n familie dreig, ‘n winkel toemaak, ‘n pad versper of ‘n besigheid plunder nie.”
Hill-Lewis sê op die plekke waar die DA-regeer sal wet en orde toegepas word.
“As die burgemeester van Kaapstad het ek ons wetstoepassingsagentskappe opdrag gegee om gereed, sigbaar en ferm te wees. Ons sal met die Suid-Afrikaanse Polisiediens saamwerk. Ons sal die paaie oophou, en beskerming vir besighede, openbare vervoer, skole en plekke van aanbidding van alle inwoners bied.”
Hy het ook ‘n beroep op elke regeringsfeer in Suid-Afrika, plaaslike, provinsiaal en nasionaal, gedoen om dieselfde op te tree.
“Kom ons verenig nou om die gemoedere te kalmeer en enige geweld te keer nog voordat dit begin.”