31 Julie 2025
Die Tshwane-metro het vandag ’n bloedneus in die hof gekry vir sy omstrede verpligte stadskoonmaakheffing.
Die hooggeregshof in Pretoria het dié heffing onwettig en ongeldig verklaar en dit ter syde gestel.
Die burgerregteorganisasie AfriForum het die hof genader om die metro se besluit om dié nuwe verpligte maandelikse heffing van R194,37 (BTW uitgesluit) op nagenoeg 260 000 huishoudings en ondernemings in die metro ter syde te laat stel.
AfriForum het aangevoer dat die heffing neerkom op onwettige en onbillike dubbele belasting, veral in gevalle waar inwoners nie enige voordeel uit die metro se vullisverwyderingsdiens trek nie en gedwing word om van privaat diensverskaffers gebruik te maak.
Die organisasie se adviseur vir plaaslikeregeringsake, Deidré Steffens, sê hul oorwinning is ’n duidelike bevestiging van dít wat AfriForum vanuit die staanspoor oor dié heffing gesê het, naamlik dat die metro se instelling daarvan onwettig en arbitrêr is.
AfriForum is van die standpunt dat inwoners wat reeds die heffing betaal het, terugbetaal moet word.
Die DA in die Tshwane-metro het intussen die burgerregteorganisasie se oorwinning verwelkom wat die onmiddellike skrapping van die omstrede stadskoonmaakheffing meegebring het.
Die DA se woordvoerder oor finansies in die metro, Jacqui Uys, beskryf die uitspraak as ’n oorwinning vir alle inwoners van die hoofstad.
Die metro het dié skoonmaakheffing op alle eiendomme gehef wat van privaat vullisverwyderingsdienste gebruik maak. Die doel daaragter was om R500 miljoen in inkomste vir die metro in te win.
AfriForum het ook ‘n kostebevel gekry, wat beteken dat die munisipaliteit nou dié organisasie se regskostes moet betaal.
Fotokrediet: Rekord