Die stigter van March and March, Jacinta Ngobese-Zuma, en die uitvoerende hoof van die burgerregteorganisasie AfriForum, Kallie Kriel, het die afgelope week tydens ’n vergadering ’n strategiese alliansie tussen die twee organisasies gevorm om, luidens ’n gesamentlike verklaring, die regering se tekortkominge op gemeenskapsvlak aan te pak.
Die vergadering het die grondslag gelê vir ’n raamwerk waarvolgens die organisasies kan saamwerk oor nasionale kwessies soos gemeenskapsveiligheid, onderwys, grensbeheer, regsake en misdaad.
Kriel het tydens ’n onderhoud op Pretoria FM se middagaktualiteitsprogram, Impak, aan Esté Gross gesê hoewel daar persone in die politieke elite is wat Afrikaners se regte minag en reken dat Afrikaners nie inheems aan Afrika is nie, dit vir AfriForum belangrik is om verhoudings met moontlike bondgenote op grondvlak vorm.
“80% van die mense in die land is nie die mense wat polarisasie wil hê nie, en hulle is ook nie die mense wat ons nie ’n plek hier gun nie.”
Kriel sê verder dat die enigste manier waarop mense hulle teen staatsverval kan buffer, is deur gemeenskappe te vorm wat self verantwoordelikheid vir die toekoms neem.
“Ons almal is keelvol vir wetteloosheid, vir misdaad, en ek dink hierdie ooreenkoms bied die grondslag om gesamentlik druk uit te oefen teen wetteloosheid in die land.”
Kriel sê die gesprek met March and March het op gedeelde belange gefokus.
“Die gedeelde belange is dat die grense in die land poreus is. Ons weet daar word allerhande onwettighede ingevoer en daar is wetteloosheid. En as jy gaan toelaat dat daar wetteloosheid is, gaan dit net die wetteloosheid op ander terreine versnel.”
Kriel sê verder dat hulle wil sien dat mense wette gehoorsaam, wat insluit wette oor immigrasie.
“As mense onwettig in die land is, oortree hulle die wet en moet die wette toegepas word.”
Kriel sê verder dat AfriForum en March and March ook beide sterk voel oor gesinswaardes en kwessies soos moedertaalonderrig.
AfriForum en March and March het ’n werkskomitee aangewys wat ten doel het om gemeenskapsprojekte te vestig en die moontlikheid van regsaksies te ondersoek waar die regering hulle pligte versuim
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/08/NUUSWEEK-Uitgawe-80-21-Aug-2026-1.pdf