SANParke sê hy het ‘n geskiedkundige mylpaal bereik deur 42 olifante in die Addo Olifant Nasionale Park vanaf die hoofkampgedeelte na sy nuut beveiligde Kabouga-gedeelte te verskuif.
Volgens die parkeraad is dit deel van pogings om die Addo-olifante se gebied in die Oos-Kaap uit te brei en die ekologiese balans te herstel.
Die park het ‘n bevolking van nagenoeg 700 olifante wat as ‘n digte bevolking geklassifiseer kan word gegewe die grootte van die park.
SANParke het gesê Kabouga-afdeling is gekies omdat dit vars water het – in vergelyking met ander dele van die park wat brakwater het – en omdat dit sowat 50km vanaf die hoofkamp geleë is.
Die park se bewaringsbestuurder, Anban Padayakee, sê die verskuiwing is sensitief hanteer, met logistieke spesialiste en veeartse betrokke.
Foto: ‘n Olifant in die Addo-olifant Nasionale Park. Foto: Mari Oosthuizen.