Die DA sê die stygende dodetal weens vloede in die Oos-Kaap is ‘n vernietigende tragedie wat besig is om te ontvou.

Dit kom nadat die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Velenkosini Hlabisa bevestig het dat die dodetal van 67 gisteraand na 78 gestyg het – met soek- en reddingsoperasies wat voortduur.
Hy het tydens ‘n onderhoud met die SABC gesê dat 21 van die 78 liggame tot dusver geïdentifiseer is.
Die leier van die DA, John Steenhuisen het die DA-lid en minister van onderwys, Siviwe Gwarube, bedank vir haar opofferings om mense in die Oos-Kaap in dié tyd by te staan. Sy is van die Oos-Kaap afkomstig.
Steenhuisen het ook Hlabisa se aankondiging verwelkom om die vloede tot ‘n nasionale ramp te verklaar en meen dit is ‘n belangrike stap om die nodige hulp aan die provinsie en sy inwoners te verleen.
Hy het ook die nooddienste, vrywilligers en owerhede bedank wat lang ure onder moeilike omstandighede werk om mense by te staan.
Sneeu het sedert Maandag ander dele van die Oos-Kaap getref, terwyl reën ook voorkom.
Hoof-foto: Cliff the Reporter (X)