Orania se skarefinansieringsprojek vir infrastruktuur het reeds meer as R540 000 se skenkings ontvang. Dié fondsinsameling het ten doel om ’n grondpad in Orania “blokkie vir blokkie” te teer. Die teer van die pad, wat Orania se hoofpad met gewilde vakansiebestemmings langs die Oranjerivier verbind, word deur Orania se ondersteuners met skarefinansiering befonds.
Die projek is aangekondig nadat die Orania Dorpsraad R600 000 op ’n vorige projek bespaar het, en daarmee die nuwe ontwikkeling begin het.
Die uitvoerende hoof van die Orania Beweging, Joost Strydom, het aan Nuusweek gesê die steun van die projek kom van regoor die land en selfs van oor die wêreld.
“Ons ontvang bydraes van verskillende plekke in Suid-Afrika maar so ook van Amerikaners, Vlaminge en ander mense wêreldwyd.”
Strydom sê ’n projek soos dié gryp Afrikaners se verbeelding aan.
“Ons is besig met ’n reuseprojek. Ons is besig om skarefinansiering vir vryheid-infrastruktuur moontlik te maak. En ons bou nie net vir die 3 000 mense wat hier woon, vir die paar honderd kinders wat hier op skool is of die paar honderd studente wat hier studeer nie. Ons bou vir honderde en duisende Afrikaners wat hoop en bid vir ’n uitkoms.”
Die projek, wat ondersteuners aanmoedig om ’n vierkante meter of meer van die pad te borg, het reeds 25% van sy doelwit bereik.
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/09/NUUSWEEK-Uitgawe-82-04-Sept-2026.pdf