Meer as 26 000 pasiënte kan tót tien jaar vir heupoperasies in Gautengse openbare hospitale wag.
Dié inligting is deur die LUR vir gesondheid in Gauteng, Faith Mazibuko, in ’n skriftelike antwoord op die DA se skadu-LUR oor gesondheid in dié provinsie, dr. Jack Bloom, in die Gautengse Wetgewer onthul.
Die langste wagtye vir heupvervangingsoperasies is by groot hospitale, onder meer by die Chris Hani Baragwanath-, Charlotte Maxeke-, en die Tembisa-hospitaal. Die pasiënte moet tussen 3 en 10 jaar vir dié operasie wag.
Kleiner hospitale met die kortste wagtye vir heupoperasies sluit in Mamelodi, Edenvale, Leratong en die Steve Biko-hospitaal.
Volgens die departement word die lang wagtye aan ernstige personeeltekorte, gebrekkige toerusting en selfs skoon linne toegeskryf.
Lugreëlingstelsels wat buite werking is lei ook dikwels daartoe dat operasies uitgestel word. Bloom sê die amptelike waglyste onderspeel die ware toedrag van sake, aangesien talle pasiënte nog op ’n afspraak met ’n spesialis wag om op die lys geplaas te word.