Luister nou

DA stel verkiesingsmanifes vir Pretoria bekend

Deur Pretoria FM Nuusspan

Die DA het Vrydag op Werkersdag sy bloudruk vir die herstel van Pretoria bekendgestel.

Die DA se burgemeesterskandidaat in die Tshwane-metro, Cilliers Brink, het die party se verkiesingsmanifes aan die ondersteuners van die party en lede van die media in die gemeenskapsaal in Mamelodi-Wes voorgehou.

Brink het, met die oog op die komende plaaslike regeringsverkiesing wat op 4 November vanjaar plaasvind, ’n dringende beroep op kiesers gedoen om “die stad terug te neem” van korrupte netwerke en vervalle infrastruktuur.

“Hierdie is nie enige stad nie; dis ons hoofstad. Dit verteenwoordig die siel van ons Republiek,” het Brink gesê.

Volgens Brink is die Tshwane-metro deur watertenkwa-mafias en sogenaamde “waBonzos” gekaap wat by die metro se agteruitgang baat vind.

Brink sê dat die doelwit eenvoudig is: as dienste werk en strate veilig is, sal beleggers terugkeer en werksgeleenthede volg.

Die DA onderneem om die metro te transformeer deur dié vyf aksieplanne in werking te stel:

  • Korrupte amptenare en tenderpreneurs sal afgedank word en hulle met eerlike werkers vervang;
    Brink sê dat korrupsie in die Tshwane-metro nie bloot toevallig is nie, maar sistemies van aard is. Volgens hom oorleef dit omdat die stelsel dit moontlik maak. Die eerste onderneming sluit in die stigting van ’n teenkorrupsie-taakspan, die digitalisering van tenders om knoeiery hok te slaan, en verpligte lewenstyl-oudits vir senior personeel.
  • Wet en orde sal herstel en korrupsie hokgeslaan word;
    Die DA wil misdaad proaktief bekamp deur die gebruik van tegnologie soos hommeltuie, kameras en ’n gesentraliseerde beheerkamer. Die party beplan ook om die metropolisie te herorganiseer met sone-gebaseerde polisiëring sodat beamptes sigbaar en aanspreeklik is in spesifieke woonbuurte gehou kan word.
  • Infrastruktuur herstel en opgradeer deur private vennote te betrek;
    Die vennootskappe gaan ingespan word om water, elektrisiteit en paaie te herstel.
  • Die waarde van munisipale bates te ontsluit;
    Bates wat geld verkwis of verval, soos kragstasies, die Wonderboom-lughawe en die varsproduktemark, sal onder professionele private bestuur geplaas word.
  • Met georganiseerde gemeenskappe saamwerk om gebiede te beveilig en skoon te hou
    Die DA wil hande met inwoners vat deur stadsverbeteringsdistrikte uit te brei. Dit sal woonbuurte en sakekerns bemagtig om die gebiede skoon en veilig te hou, terwyl die metro ook veilige hawens vir haweloses sal skep om stedelike verval om te keer.

Brink sê as die party aan die ondernemings uitvoering kan gee kan die metro se finansies aansienlik verbeter en dat dit hulle sal toelaat om die projekte wat lank verwaarloos is, af te handel.

Gewilde Nuus

BKS-inenting

Privaatsektor kry groen lig om BKS-entstof in SA te vervaardig

Medies - Netwerk24

Raad van Gesondheidsorgfinansiers vra hervorming

Siviwe Gwarube

Implementering van handboekkatalogus duur voort ondanks haakplekke

Fotokrediet: CBS

Die wit bevolking in Suid-Afrika is besig om te krimp

Fotokrediet: eNCA

Vrou se liggaam in Moroka-dam gevind

Ander Nuus Artikels

Afrikaner-vlugtelinge
Trump-regering wil tot 17 500 Afrikaner-vlugtelinge in VSA toelaat
Fotokrediet: Netwerk24
15 Nuwe kruise by Witkruismonument opgerig
Bergview
Oudskoolhoof: Aantygings het blywende skade gelaat
BKS-inenting
Privaatsektor kry groen lig om BKS-entstof in SA te vervaardig
Medies - Netwerk24
Raad van Gesondheidsorgfinansiers vra hervorming

Luister nou