Luister nou

Pasiënt bly vordering toon ná baanbreker-operasie vir Alzheimer se siekte

Deur Pretoria FM Nuusspan

Seugnet van Zyl

Waar ’n bejaarde Pretoriase man tot onlangs weens demensie nog net sy kakebeen en lippe sonder enige klank kon beweeg, praat hy nou weer danksy ’n baanbreker-operasie met sy vrou.

Dr. Ben Moodie, ’n spesialis in plastiese en konstruktiewe chirurgie, verbonde aan die Cintocare-hospitaal in die hoofstad, vertel trots dat dié 70-jarige pasiënt skaars ’n dag ná die operasie sy eerste vol sin in twee jaar geuiter het. Die operasie het behels dat afvalstowwe uit sy brein chirurgies gedreineer is.

“Met my gaan dit goed, dankie,” was die woorde waarmee Moodie begroet is.

Die man, wat Moodie al 20 jaar ken, se geheue was voor die operasie geweldig sleg.

“Hy kon net gebroke frases sê. As jy hom ’n vraag gevra het oor bekende dinge, sal hy miskien een woord terugsê. Mense wat hy goed ken, kon hy glad nie meer herken nie of hulle name onthou nie”

Nou, twee weke ná die operasie, het hy ook al vir sy vrou gesê dat hy haar baie lief het. Sy fokus en konsentrasie het verbeter, en hy is volgens Moodie ook meer teenwoordig, sy oë is helder en hy kyk vir jou as jy praat. Hy reageer ook nou op dinge wat hy op die radio hoor en herhaal van die woorde.

Vir Moodie (41) is sy pasiënt se vordering tot dusver ’n riem onder die hart.

“Dis regtig spesiaal om te sien dat ons ’n bietjie van die oom kan terugkry. Ons as mensdom hanteer breinsiektes baie moeilik. As ’n pa of oupa nie meer sy vrou of kinders kan onthou nie of hy verdwaal in sy eie huis, is daar pyn wat daarmee saamgaan. Dis moeilik om ’n persoon so te verloor en te sien hoe hulle agteruitgaan.”

Moodie verduidelik dat die brein van iemand met Alzheimer se siekte sukkel om van sy eie afvalstowwe ontslae te raak. Weens dié siekte hoop toksiese proteïene op en veroorsaak dit skade in die brein. Dit lei na geheueverlies en verwarring.

“Met Alzheimer word die brein se dreineringstelsel gedeeltelik geblokkeer of oorlaai.”

Hy sê baie beskeie dat hy met die hierdie eksperimentele operasie, wat fokus op die limfstelsel, “eintlik maar net gewone loodgieterswerk verrig het”.

“Dis soos om ’n nuwe pyp in te sit om ’n geblokkeerde dreineringstelsel te verbeter sodat water weer kan vloei.”

Volgens hom verteenwoordig hierdie prosedure, wat behels dat mikroskopiese limfvate in die nek aan klein bloedvate verbind word om die vloei van limf na die bloedstroom te herlei, ’n groot skuif is om Alzheimer slegs as ’n breinsiekte te behandel.

“Hierdie skuif kan in die toekoms heeltemal nuwe behandelings teweeg bring.”

Hoewel die prosedure ’n eerste vir Suid-Afrika en Afrika is, is dit ook al in China, Suid-Korea, Spanje, Taiwan en Singapoer gedoen.

Moodie sê dit is moontlik gemaak deur die volgehoue leiding van sy mentor en ook een van min dokters wat dié prosedure al aangepak het, prof. J.P. Hong in Suid-Korea.

Sedert die operasie word Moodie met navrae van so ver as Skotland en Australië genader. Hy dink hy sal in Mei reeds weer die prosedure op ’n nuwe pasiënt kan aanpak.

Gewilde Nuus

Untitled design (30)

Duisende moet nog toelaagkaarte omruil

Ernst Roets

Sokkerballe of kruise?

UNISA

UNISA: Minister moet ingryp

Willie Spies

Spies ingesweer as raadslid

Graffiti-logo-nuut

Graffiti-boekeblad 28 Augustus 2026

Ander Nuus Artikels

Padlangs
Wees lig!
Internasionale Perspektief nuut
VSA kry oorhand oor Iran
Untitled design (31)
Ek staan hier sonder hare of borste
Untitled design (30)
Duisende moet nog toelaagkaarte omruil
Ernst Roets
Sokkerballe of kruise?

Luister nou