’n Medestigter van die Betereinders sal Lex Libertas se Witkruis-projek ondersteun.
Johan Erasmus sê hy sal in solidariteit en met die doel om ’n gesonde gesprek oor plaasmoorde in Suid-Afrika en onder Afrikaners aan te moedig, ’n kruis ondersteun.
“Daar is ’n gesonde manier om met verskillende vorme van protes dieselfde doel te probeer bereik sonder om gemeen of venynig te wees. Jy probeer daarmee ’n debat aan die gang sit. Daar is wel twee maniere om ’n probleem op te los.”
Volgens Erasmus deel die Betereinders en Lex Libertas nie dieselfde doelstellings nie.
“Groter selfbeskikking maak my ongemaklik.”
Lex Libertas gaan in September 3 000 wit kruise ter bewusmaking van plaasmoorde in Suid-Afrika in Washington D.C. oprig.
Die Betereinders wil graag volgende maand 3 000 sokkerballe aan kinders in Tarlton, ’n township wes van Johannesburg, gaan uitdeel.
Waar dr. Ernst Roets, uitvoerende direkteur van Lex Libertas, op 26 September die kruise saam met naasbestaandes van diegene wat in plaasmoorde dood is, naby die Withuis gaan oprig, moet die Betereinders nog geld insamel om hulle doel te verwesenlik.
Die Witkruis-projek is ’n internasionale bewusmakings- en mobiliseringsveldtog wat deur Lex Libertas en die New York Young Republican Club op die been gebring is. Tydens die veldtog se program in Washington sal 3 000 wit kruise vertoon word ter nagedagtenis aan slagoffers van plaasmoorde en om die menslike koste van plaasaanvalle onder die aandag van ’n internasionale gehoor te bring. Elkeen van die kruise sal name op hê. Meer as 35 000 mense het al die petisie vir die Witkruis-projek onderteken en volgens Roets het hulle al die nodige toestemming om die kruise daar op te rig.
“Die Witkruis-projek is uiteindelik bedoel om nie net ’n boodskap van herinnering te wees nie, maar ook om hoop uit te dra. Ons doen dit omdat ons verstaan dat steun vir oplossings slegs gewerf kan word indien die krisis (plaasmoorde) eers erken word.”
Erasmus verduidelik dat hulle projek ten doel het om misdaad te voorkom deur vir die jeug in townships deur middel van sokker ander opsies te gee om hulself aanstelbaar te maak eerder as dat hulle hul tot misdaad wend.
“Ons probeer om misdaad by sy wortels af te sny. Dis nie net ’n foefie nie. Ons werk saam met die Foundation for a Safe South Africa, wat by 51 van die gevaarlikste townships in die land betrokke is.”
Schalk van Heerden, medestigter van die Betereinders, het die naweek in ’n ope brief verduidelik waarom hulle nie die Witkruis-projek ondersteun nie.
“Die storie van 3 000 voorwerpe klink na ’n konfrontasie of ’n teenstrydigheid, maar dis onlosmaaklik verweef. Die simboliek agter ’n kruis en die simboliek en trane agter ’n sokkerbal is deel van die dieselfde nasionale tragedie.”
Om mense in dié brief te laat kies tussen die kruise en sokkerballe as ’n “teenreaksie”, is na Erasmus se mening nie verkeerd nie.
“Ja, dit is in reaksie. Kyk ons na ’n ander manier om hierdie probleem op te los? Ja.”
Erasmus sê die gesprek rondom plaasmoorde was tot dusver nog net “lelik en opportunisties”. Volgens hom is dié gesprek ook vir politieke gewin gebruik.
Hy het bevestig dat die Betereinders geen affiliasie met die Afrikaners vir Suid-Afrika (AvSA) het nie.
Roets meen om Lex Libertas se Witkruis-projek teen die Betereinders se sokkerballe af te speel, is “baie venynig” en “bitter onsmaaklik”.
“Mense is baie kwaad vir hulle (Betereinders), veral die naasbestaandes van mense wat in plaasaanvalle dood is. Hulle maak ’n legitieme saak bespotlik. Dis ’n vorm van laster en hulle probeer ons geloofwaardigheid afbreek.”
Roets en sy organisasie sal daarom nie dié sokkerbalprojek ondersteun nie.
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek –https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/08/NUUSWEEK-Uitgawe-81-28-Aug-2026.pdf