Luister nou

VSA kry oorhand oor Iran

Deur Redaksie

Dit is vandag presies ses maande sedert die Verenigde State van Amerika (VSA) ʼn onverwagse militêre operasie teen Iran geloods het. Die Amerikaanse regering en president Donald Trump was oortuig daarvan dat militêre optrede nodig was om Iran se kernprogram finaal tot stilstand te ruk, die regime in Iran te straf vir die massale afmaai van duisende teenregeringsbetogers in Januarie, Iran se steun aan terreurproksies regoor die Midde-Ooste te beëindig en selfs die ongewilde teokratiese regime wat Iran sedert 1979 met ʼn ystervuis regeer het, tot ʼn val te bring.

Vandag, ses maande later, lyk dit uiteindelik of die VSA die oorhand teen Iran gekry het. Baie kan gesê word, en ís al gesê én geskryf, oor of die besluit om Iran op 28 Februarie aan te val die regte strategie was. Was die motiewe vir die aanval duidelik en konkreet? Was die oogmerke met die militêre operasie goed deurdink? Daaroor kan breedvoerig gedebatteer word.

Terwyl die VSA, en aanvanklik Israel, talle senior regeringsleiers, insluitend die opperleier Ali Chamenei, doodgemaak het, Iran se vloot en lugmag grootliks verwoes het, Iran se kernprogram reuseskade berokken het en die land se vermoë om wapens te vervaardig en aan proksies soos Hezbollah te smokkel tydelik tot stilstand geruk het, het ʼn paar maande van chaos tot reuse-ontwrigting in die Midde-Ooste gelei. Regoor die wêreld het ekonomieë ʼn duur prys betaal, met oliepryse wat hoog gebly het.

ʼn Belangrike keerpunt was die ondertekening van ʼn Memorandum van Verstandhouding (MvV) tussen Iran en die VSA net meer as twee maande gelede. Kort ná die ondertekening het oliepryse vinnig begin daal, daar was ʼn skerp toename in olietenkskepe wat deur die seestraat begin beweeg het en die VSA het talle sanksies teen Iran opgehef. En toe besluit radikale elemente in die regime in Teheran dat die verlies van die Hormoes-hefboom, wat maande lank soos ʼn swaard oor die wêreldekonomie gehang het, oor die lang termyn katastrofies vir Iran sal wees, en begin die land met hernude aanvalle op kommersiële skepe wat deur die seestraat beweeg.

Uiteindelik moes die Amerikaners ʼn nuwe strategie bedink. Die militêre strategie van Februarie en Maart, hoewel dit meesterlik uitgevoer is, het nie die gewenste uitwerking gehad nie. Die diplomatieke proses wat daarop gevolg het, het ná Iran se verbreking van die MvV dus ook misluk. Al wat oor was, was ekonomiese druk.

Oor die afgelope twee maande is Iran se ekonomie tot op die rand van ʼn monetêre en fiskale afgrond gedwing. Verlede week het die VSA besluit om die veldtog te verskerp en ook enige lande en maatskappye wat met Iran sake doen, te bestraf. Die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) het onmiddellik aangekondig dat alle ekonomiese bande met Iran verbreek word. Sowat 40% van Iran se olietransaksies het die afgelope tyd deur frontmaatskappye in Dubai gevloei.

Maandag het die Amerikaanse minister van finansies, Scott Bessent, die “enkele grootste finansiële offensief ooit teen ʼn teenstander” aangekondig. Amerikaanse bondgenote soos Turkye, Pakistan en Irak is voor die keuse gestel: Kies nóú tussen ekonomiese bande met die VSA en Iran. Die Chinese regering het woedend op Bessent se offensief gereageer – en met goeie rede, want China koop 90% van Iran se olie aan.

Intussen was Pakistan se weermaghoof, een van die twee magtigste persone in die regeringselite in Islamabad, Maandag in Teheran. Oman se minister van buitelandse sake was Dinsdag daar. Dinsdagaand het die emir van Katar aangekondig dat verskeie Arabiese lande in gesprekke met Iran gewikkel is om die land te oortuig om na die MvV terug te keer.

Reeds verlede week het Iran se gematigde president, Masoud Pezeshkian, gesê dat Iran se oorlog beëindig moet word omdat die ekonomiese skade vir Iran onhoudbaar raak. Teen Dinsdag het Iran se geldeenheid, die rial, ʼn nuwe laagtepunt van twee miljoen rial vir een Amerikaanse dollar bereik. Inflasie staan op 90%, drie miljoen Irannese het hul werk verloor en daar is tekorte aan bykans elke ingevoerde produk en diens in Iran.

Wat die Amerikaners nie voor gehoop het nie, is dat die mees radikale elemente van die Islamitiese Revolusionêre Wagkorps, byna almal geharde veterane van die oorlog tussen Iran en Irak, beheer oor groot dele van die regering sou neem nie. Die Amerikaners se fout was om te glo dat hul militêre operasie, en die verwydering van Chamenei, tot ʼn oorname deur ʼn meer gematigde faksie in Teheran sou lei.

Waar laat dit ons vandag? Terwyl Pezeshkian en ʼn klein groepie gematigde medestanders in Teheran toenemend deur radikale elemente soos Mohsen Rezaei, die nuwe sekretaris van Iran se Opperste Nasionale Veiligheidsraad, ondergrawe word, raak die ekonomiese krisis in die land onhoudbaar en skep dit ʼn plofbare situasie wat weer tot grootskaalse opstande kan lei. Slegs vrees vir ʼn herhaling van Januarie se massaslagting weerhou tans Irannese om die regime deur protes tot ʼn val te probeer bring.

Terwyl die Amerikaanse vloot Iran se hawens met groot sukses blokkeer en meer en meer skepe veilig deur die seestraat vergesel, is Bessent se ultimatum aan Iran se laaste vriende, of minstens bure wat self voordeel getrek het uit handel met Iran, waarskynlik die laaste strooi wat die kameel se rug kan breek. Pakistan, die VAE, Katar, Iran, Turkye en China se optrede en uitsprake die afgelope paar dae bevestig dit. Iran gaan óf bykans heeltemal alleen en geïsoleerd die toekoms in (met ʼn verarmde bestaansekonomie) óf die land keer terug na die MvV en ʼn onderhandelde skikking met die VSA en word ekonomies bevry.

Die VSA het duidelik nou die oorhand oor Iran. Oliepryse kan nou, maande later as waarvoor almal gehoop het, daal tot ʼn band van tussen 70 en 80 dollar per vat, terwyl Iran sal moet kies tussen die laaste opsie van isolasie en ekonomiese versmoring of vrede, vryheid en herintegrasie in die wêreldekonomie. Vir nou lyk dit of ʼn sug van verligting dalk nie (weer) voortydig sal wees nie.

 

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek –https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/08/NUUSWEEK-Uitgawe-81-28-Aug-2026.pdf

Gewilde Nuus

Untitled design (30)

Duisende moet nog toelaagkaarte omruil

Ernst Roets

Sokkerballe of kruise?

UNISA

UNISA: Minister moet ingryp

Willie Spies

Spies ingesweer as raadslid

Graffiti-logo-nuut

Graffiti-boekeblad 28 Augustus 2026

Ander Nuus Artikels

Padlangs
Wees lig!
Untitled design (31)
Ek staan hier sonder hare of borste
Untitled design (30)
Duisende moet nog toelaagkaarte omruil
Ernst Roets
Sokkerballe of kruise?
UNISA
UNISA: Minister moet ingryp

Luister nou