Die VF Plus se burgemeesterskandidaat, Willie Spies, is die afgelope week as ’n raadslid in die Tshwane Metro ingesweer. Spies se inhuldiging volg nadat die voormalige Pretoria-streeksleier en die koukusleier in die metro, Grandi Theunissen, oorgeloop het na die DA.
Theunissen was die VF Plus se burgemeesterskandidaat in Tshwane in die 2021-verkiesing en het ook tussen 2023 en 2024 as burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid onder Cilliers Brink van die DA gedien.
Die stap kom kort nadat Theunissen, te midde van interne spanning in die VF Plus, van sy posisie as koukusleier onthef is. Die ontheffing volg nadat die VF Plus ’n petisie teen ’n beplande eiendomsontwikkeling in Groenkloof in Pretoria gedryf het en daarna, onder Theunissen se leiding, tydens ’n raadsvergadering ten gunste van ’n verslag oor die ontwikkeling gestem het.
Theunissen het tydens ’n mediakonferensie gesê dat hy die besluit om die VF+ te verlaat, waarvan hy reeds sedert 1994 ’n lid was, nie ligtelik geneem het nie.
Spies het in ’n Facebook-plasing gesê dat dit inderdaad tyd is vir ’n nuwe golf van republikeinse groen-oranje-geesdrif om oor die land te spoel.
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek –https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/08/NUUSWEEK-Uitgawe-81-28-Aug-2026.pdf