Luister nou

Wees lig!

Deur Redaksie

Het jy al ooit stilgestaan en gedink aan hoe die Here jou gevorm en aanmekaar geweef het in die skoot van jou moeder? Voor die wêreld jou naam geken het, voor seerkry sy merke op jou hart gelaat het, is jy deur God gevorm om lig te wees. Jy was nie ’n toevallige gedagte nie. Jy was lig, geskape in sy beeld. Lig, onaangeraak deur die donker van hierdie wêreld. Lig, deur sy asem tot lewe geroep.

Wanneer ek Psalm 139 lees, raak ek weer bewus van dié wonder: God het jou en my met fyn, liefdevolle hande aanmekaar geweef. Volmaak, sonder merk, sonder skadu, sonder vlek. Lig. Net lig. Maar vanaf die oomblik van geboorte, het daardie perfekte lig in aanraking met die donker, seer en gebrokenheid van die wêreld gekom. Dawid se beeldspraak verwoord dit so mooi: Ons lig is deur die donker en obskuurheid van die wêreld gekneus. Nie vernietig nie, maar gekneus. Dit beteken dat die lig nog daar is, maar dat die glans daarvan verwond is deur verliese, teleurstellings, verwerping, pynlike herinneringe, en die stilte van gebede wat vir lank onbeantwoord bly. Onbeantwoord omdat selfs ons gebede gekneusde gebede geraak het, wat kom uit ’n plek van verwonding. En uit daardie plek van verwonding het ons begin om aan die Here te probeer voorskryf wat ons dink ons nodig het om weer heel te raak. Ons het begin om na onsself te kyk en te voel asof ons slegs ’n skadu van onsself is, en dit is presies wat gebeur het. Ons het ’n skadu geword waar lig eens was.

Tog nooi God ons nie om by die kneusings te gaan woon nie. Hy nooi ons om terug te keer na die lig wat Hy ons geskep het om te wees. Hy sê: “Jy is ’n stad op ’n berg, en ’n stad op ’n berg kan nie weggesteek word nie. Skyn helder!”

Keer terug na die Lig in wie se beeld jy aanmekaar geweef is. In Job 28 sien ons iets van hierdie heilige inkeer. Soos om jou gesig na God te draai, soos na ’n spieël. Jouself weer te sien in Hom en Hom in jou. Die beeld waarna jy geskep is. Wanneer jy na die Lig draai, begin jou binneste weer belyn. Jou denke word weer lig. Jou woorde begin anders klink. Jou gebede dra weer verwagting. Dra weer krag. Jy begin nie meer net vanuit seer reageer nie, maar vanuit waarheid leef.

Wanneer jy Lig bid oor jou lewe en jou omstandighede, nooi jy God se teenwoordigheid in waar donkerte probeer vestig het. Oor jouself. Oor jou gedagtes. Oor jou emosies. Oor die besluite wat jy neem. Oor jou huis, jou verhoudings, jou werk, jou toekoms. En waar sy Lig inkom, begin duisternis wyk. Want geen duisternis kan in die teenwoordigheid van Lig staan nie.

Die hartseer is egter dat ons dikwels probeer om gekneusdheid met aardse dinge te bedek. Ons vul dit met besigheid, met geraas, met prestasie, met afleiding. Ons probeer dit stilmaak met drank, met dwelms, met verhoudings wat nie deur God gebou is nie, met enigiets wat ons vir ’n oomblik die leegheid laat vergeet. Ons bid ook nie meer in geloof nie, maar uit moegheid en oorlewing. En tog neem niks van daardie dinge die gekneusdheid weg nie. Dit vul dit dalk vir die oomblik, maar dit genees nie die kern nie. Inteendeel, al hierdie dinge kneus ons lig net meer.

Dalk het dit tyd geraak om eerlik te word oor wat in jou binnekant aangaan. Dalk het dit tyd geraak om op te hou voorgee dat die kneusings nie saak maak nie. Tyd geraak om die stem van God bo die stem van seer te kies. Sy Lig oor jou gedagtes die wag te laat hou. Jou die pad uit jou verwonding tot in jou roeping te wys. Om te erken dat jy nie geskep is om uit duisternis te lewe nie, maar in God se teenwoordigheid. Jy is nie gemaak om in die skadu te bly nie. Jy is gemaak om te skyn.

Die besluit wat jy vandag neem, dra meer gewig as wat jy dalk besef. Dit kan jou oor ’n jaar, of oor vyf jaar, radikaal en eksponensieel verander – ten goede of ten kwade. Besluite bou paaie. Paaie vorm gewoontes. Gewoontes vorm identiteit. En identiteit bepaal die rigting van jou lewe. ’n Kneuskol kan, as dit ongemerk bly, ’n vrot kol word. Wat begin as iets klein en ongesiens, kan groei totdat dit die hele plek begin beïnvloed. Maar dieselfde geld vir Lig: Wanneer jy dit toelaat om in te dring, om te herstel, om te belyn, bring dit lewe, bring dit iets nuut!

Belyn daarom wie jy is in hierdie oomblik met wie jy geskep is om te wees. Moenie jou lewe bou rondom die kneusings nie. Bou dit rondom die Lig. Keer terug na die Lig. Keer terug na die Een wat jou gevorm het. Keer terug na die Een wat jou naam ken, jou hart ken, jou wonde ken, en steeds sê: Kom nader. Kom terug.

Jy is nie net bedoel om te oorleef, verwond en gekneus nie. Jy is bedoel om heel te wees, vry te wees, gevul met vrede te wees, te skyn. Jy is gemaak om God se Lig te dra in ’n wêreld wat dit desperaat nodig het. Daarom: Kies die Lig. Spreek Lig. Bid Lig. Leef Lig. Wees Lig!

Alta Strauss is breinprofielpraktisyn, motiveringspreker en skrywer.

 

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek –https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/08/NUUSWEEK-Uitgawe-81-28-Aug-2026.pdf

Gewilde Nuus

Lynnwood padwerke - The Citizen

Bouprojek in Lynnwoodweg vra nog drie maande

Guptas

Gupta-broers steeds gesoek

Cyril Ramaphosa, South Africa's president, at the opening of the South African Reserve Bank head office, after renovations, and museum in Pretoria, South Africa, on Friday, June 19, 2026. Traders scaled back bets for a South African rate hike next month. Photographer: Waldo Swiegers/Bloomberg via Getty Images

Ramaphosa: Bewerings oor ‘wit volksmoord’ benadeel ekonomie

Ad hoc - IOL

Ad hoc-komitee finaliseer sy verslag

Fotokrediet: Groundup

SASSA funksioneer met net 44%

Ander Nuus Artikels

Israelse vlug - France 24
Israelse passasiers het ‘n noue ontkoming tydens vlug
Fotokrediet: Daily Maverick
Diplomatieke stappe teen Amerikaanse ambassadeur
plaasaanvalle - Maroela Media
Vryemarkstigting: Risiko vir moorde is groter vir boere
Lynnwood padwerke - The Citizen
Bouprojek in Lynnwoodweg vra nog drie maande
Guptas
Gupta-broers steeds gesoek

Luister nou