Die week se topverkopers
10 Saak van liefde of dood – Salmon Owen (vert Frederik de Jager)
9 Grensloos – Wilna Adriaanse
8 Wat die witbors wou sê – Elmarie Dercksen
7 Waar die teerpad ophou – Jean Cooper
6 Van man tot man – Olive Schreiner (vert Antjie Krog)
5 Rebekka van Kameeldoornplaas – Irma Joubert
4 Bethulie – Rensche van der Walt
3 Jagspinnekop – Erla Diedericks
2 Brandstapel – Marie Lotz
1 Op Lig – Thilde Nel
Silas en die Ysbeer op Tafelberg – ’n Selfleesavontuur – Annie Klopper & Zandré Coetzer; illustrasies deur Studio Muti. Lapa Uitgewers, R190
Silas en die Ysbeer op Tafelberg – Prenteboek – Annie Klopper & Zandré Coetzer; illustrasies deur Studio Muti. Lapa Uitgewers, R210

SILAS woon saam met sy ma en sy ouma aan die voet van Tafelberg. Saans stuur Ouma Silas Droomland toe met wonderlike stories … oor dinge soos husse met lang ore, Klaas Vakie en Van Hunks. Sy vertel hom ook van die wensbokke van Tafelberg wat wense laat waar word.
Wanneer Ouma eendag wegraak, word Silas se wêreld geruk. Toemaar moes haar gevang en na Droomland gevat het. Silas besluit om haar te gaan soek. Willemien, die bure se dogter, kom saam. Maar Droomland lyk anders. Dit word ál kouer en iets loop en brul in die verte …
Hulp kom op ’n onverwagse manier en dié avontuur neem allerlei nuwe afdraaie.
’n Roerende storie wat vir kinders ’n moeilike konsep soos die dood sal verduidelik. Die boeke is beskikbaar in twee formate: as prenteboek en ’n langer leesboek. Perfek vir kinders van 5 tot 11 jaar oud.
Karoo Wildsvleis – Annatjie Reynolds & Lynne Minnaar. Human & Rousseau, R390

Jou alles-in-een-wildsgids – van die veld tot op die tafel
Karoo Wildsvleis bied ’n meesterklas in wildskookkuns – dit neem jou van die ongerepte jagveld na die slagkamer en wys jou hoe om ’n karkas in die onderskeie snitte op te sny, en dan na die kombuis vir die beste gaarmaakmetodes, marinades en smulsouse.
Voeg daarby wenke vir koue en warm beroking, nat- en droogpekel, verwerking in biltong, salami en wors, asook die gebruik van kruie en speserye.
Die boek is ingedeel volgens snitte en vir elke snit is daar ’n keur van aanloklike resepte, van klassiek tot kreatief.
Verwag treffers soos wildspastei, wildspotjie, rolrib, rookwors, springbokboud met lammersterte, kerriesult, bitterballen en nog vele meer.
Ontvang die Karoovlaktes se geskenk met oop hande en ’n oop hart, nooi die vrye natuur na binne, dek jou tafel met gulhartige oorvloed en bemeester die kuns om wildsgeregte te maak wat smelt in die mond.
Ook beskikbaar in Engels – Karoo Venison
Op Lig – Thilde Nel

Wat doen jy wanneer jy ’n liefdesnota tussen jou man se wasgoed ontdek wat nie vir jou bedoel is nie?
Dis presies die keuse waarvoor Nina een Sondagoggend te staan kom. Moet sy dit ignoreer? Hom daarmee konfronteer en hulle oënskynlik perfekte lewe op sy kop keer?
Skielik voel haar veilige, voorspelbare lewe – haar suksesvolle restaurant, haar aantreklike man, haar hegte vriendekring – nie meer so onwrikbaar nie. Soos krake begin wys, word die mense naaste aan haar ook getoets: ’n verwoestende diagnose, ’n huwelik onder druk, en waarhede wat nie langer weggesteek kan word nie.
Net Bas, die lojale dokter en ewige oujongkêrel, bly ’n vaste anker. Op die Griekse eiland Milos hoop Nina en haar vriendin Emma om perspektief te vind. Maar tussen son, wyn en see word geheime ontbloot – en moet Nina besluit hoeveel van die waarheid sy werklik wil weet.
Want soms is dit eers wanneer alles begin verbrokkel, dat die lig deurbreek.
Op Lig – Thilde Nel. Boekdiva Uitgewers, R350

Al hierdie boeke sowel as ander nuwe vrystellings en topverkopers is nou beskikbaar by www.graffitiboeke.co.za teen 20% afslag.
KOMPETISIE
Antwoord die volgende vraag:
Wie is die skrywer van Op Lig?
Whatsapp jou antwoord saam met jou VOLLEDIGE adres na 072 386 5997
Inskrywings sluit Maandag 31/08/2026
Die wenner sal lukraak gekies word en in volgende week se Nuusweek aangekondig word.
Die pryswenner se boeke sal deur Graffiti versend word en alle navrae moet direk aan Graffiti gerig word by [email protected]
Verlede week se wenner was Petra Taljaard van Pretoria.