Luister nou

UNISA: Minister moet ingryp

Deur James Kemp

Te midde van klagtes oor die werksomstandighede by die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) het Solidariteit die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, gevra om in te gryp.  Solidariteit het van werknemers by UNISA verneem dat daar ’n patroon van uitbranding, buitensporige werkdruk en vrees vir viktimisasie is. Solidariteit het in sy skrywe aan Manamela versoek dat ʼn onafhanklike assessor en assesseringspaneel ingevolge artikel 43, 44 en 45 van hoofstuk 6 van die Wet op Hoër Onderwys aangestel word.  Só ʼn ondersoek moet die omvang van die probleme vasstel, die uitwerking daarvan op werknemers ondersoek en aanbevelings maak oor maatreëls wat by Unisa ingestel moet word. Solidariteit het ook op 24 Augustus aan Unisa se visekanselier, prof. Puleng LenkaBula, geskryf om kommer oor werknemers se werkomstandighede en beroepsgesondheid en -veiligheid onder haar aandag te bring.

’n Werknemer van UNISA het die afgelope week aan Nuusweek vertel dat die werksomstandighede by UNISA die laaste tyd baie agteruitgegaan het terwyl die werkslading toegeneem het. In sekere departemente moet drie tot vier mense ’n kantoor deel, in sommige kantore is die internet nie betroubaar nie, en in van die geboue kan die toiletdeure nie sluit nie, die seephouers is leeg en daar word geen aandag aan die muf of stukkende plafonne gegee nie.

“Die mense se moreel is laag,” vertel die werknemer.

Dosente in opvoedkunde se werksaamhede sluit onder meer in om voorgraadse studente in praktiese onderwys se krit-lesse te evalueer. Die evaluasies het egter toegeneem van 25 in 2024, 30 in 2025 en 40 vanjaar. Intussen het daar ook baie nasienwerk bygekom wat voorheen nie die geval was nie, omdat alle kontrakte met nasieners gekanselleer is en adjunkakademici aangestel is om voorgraadse modules met groot getalle na te sien. Waar daar voorheen tussen 450 en 500 aktiewe studente was in modules, het dit verhoog tot meer as 1 000 studente met twee dosente wat dit moet nasien. Dit is ’n uitdaging wat verskeie dosente ervaar, wat daartoe lei dat meerkeusevraestelle, wat makliker nasien, toenemend ingespan word, wat andersyds die kwaliteit van die werk negatief kan beïnvloed.

“Ons hou nie op nasien nie,” sê die werknemer.

Die werknemer vertel dat personeel by UNISA baie swaar trek. “Ek hoor dit in mense se stemme as ek met hulle praat. Daai absolute kapoetgeit.”

’n Kollega wat onlangs oorlede is, het tydens ’n personeelvergadering vir haar departementshoof gesê dat sy “nie cope nie” en haar gesondheid daaronder ly. Sy is afgejak en beveel om net aan te hou nasien.

Dit gaan net so swaar met die werknemer: “Ek is fisiek moeg. Jy kan dit aan niemand beskryf nie, maar ek moet net aangaan ten spyte van alles.”

Pieter Jordaan, woordvoerder van Solidariteit, sê hulle is bekommerd oor die personeel by UNISA en beskou die aantygings oor Unisa se werksomstandighede in ’n baie ernstige lig.

“Dit was ook die rede waarom ons dadelik uitgereik het om terugvoer van lede en nielede by Unisa te kry. Ons moedig werknemers steeds aan om met Solidariteit te praat indien hulle voel hulle regte as werknemers word deur Unisa misken. Van die terugvoer wat ons onafhanklik van ’n groot getal personeellede ontvang het, werklik ontstellend.”

Jordaan sê daar bestaan ook ’n vrees onder personeel dat hulle geviktimiseer sal word as hulle praat.

“Ons glo die bewerings wat gemaak word, regverdig ten minste ’n dringende ondersoek na werkstoestande by Unisa. In ons eie terugvoer van die lede kom verskeie temas na vore, maar meestal dat hulle naby aan ineenstorting of uitgebrand is weens werkslading, wat dikwels weens personeeltekorte en oormatige hoeveelhede nasienwerk veroorsaak word.”

Jordaan sê alhoewel hoë werkslading in die meeste werksomgewings te verwagte kan wees, dui hierdie terugvoer op buitengewone en onaanvaarbare omstandighede.

“Klagtes daaroor val ook op dowe ore, en personeel voel dit het ’n ernstige negatiewe uitwerking op hulle fisieke en geestelike welstand.”

Nuusweek het na UNISA uitgereik vir kommentaar maar teen saktyd nog nie terugvoer ontvang nie.

 

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek –https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/08/NUUSWEEK-Uitgawe-81-28-Aug-2026.pdf

Gewilde Nuus

Untitled design (30)

Duisende moet nog toelaagkaarte omruil

Ernst Roets

Sokkerballe of kruise?

UNISA

UNISA: Minister moet ingryp

Willie Spies

Spies ingesweer as raadslid

Graffiti-logo-nuut

Graffiti-boekeblad 28 Augustus 2026

Ander Nuus Artikels

Padlangs
Wees lig!
Internasionale Perspektief nuut
VSA kry oorhand oor Iran
Untitled design (31)
Ek staan hier sonder hare of borste
Untitled design (30)
Duisende moet nog toelaagkaarte omruil
Ernst Roets
Sokkerballe of kruise?

Luister nou