Die twee kandidate in die DA se leierskapstryd Geordin Hill-Lewis en Sibusiso Dyonase het Saterdag tydens die party se federale kongres die geleentheid gekry om aan afgevaardigdes te sê waarom stemgeregtigdes vir hulle moet stem.
Hill-Lewis is sedert 2021 die burgemeester van Kaapstad en die Wes-Kaapse adjunkleier van die DA. Hy word in die stadium as die gunsteling beskou.
Dyonase is ’n DA-raadslid in die Sedibeng-distriksmunisipaliteit en ook die party se koukusleier.
Dyonase was eerste aan die beurt en het tydens sy spreekbeurt gesê dat die tyd vir introspeksie in die DA aangebreek het. Hy sê die verkiesing is nie ’n gewildheidskompetisie nie en het ook sterk klem op waardegedrewe leierskap gelê en kongresgangers genooi om langs hom “hand aan hand” te stap om die land te verenig.
Volgens Dyonase verkoop hy nie ’n droom aan Suid-Afrikaners nie en het die DA reeds op plekke soos Midvaal, Umngeni en Kaapstad gewys dat hulle kan regeer. “Ons sien die wrak wat deur die ANC en hulle koalisievennote agtergelaat is.”
Hill-Lewis het op sy beurt gesê dat dit nou tyd is om die DA die grootste party in Suid-Afrika te omskep. Volgens hom regeer die DA reeds beter as enige party in Suid-Afrika en is dit nie nou die party se taak om hulle rekord te verdedig nie.
“Ons taak is nou om ’n politieke hoop vir miljoene Suid-Afrikaners te wees wat ’n warm gevoel vir ons het maar nog nie heeltemal gereed voel om hulle stemme vir ons te gee nie.”
Hill-Lewis sê dat die DA ’n party moet word wat Suid-Afrikaners kan sien en hoor, maar ook voel.
“En dit beteken dat ons ’n politieke kultuur binne ons party moet bou wat die land wat ons daar buite wil bou weerspieël.” Hill-Lewis sê hy vra nie dat die afgevaardigdes agter hom as ’n kandidaat staan nie maar agter ’n ideaal veel groter as enige van hulle. “Vir ons om sterker te word sodat Suid-Afrika sterker kan word.”
Beide die kandidate hoop om môre as die nuwe DA-leier aangekondig te word nadat John Steenhuisen aangedui het dat hy nie weer vir dié posisie beskikbaar sal wees nie.
Afgevaardigdes sal môreoggend tussen 06:00 en 08:45 vir die kandidaat van hulle keuse kan stem. Die nuwe DA-leier sal môremiddag aangekondig word tesame met die nuwe federale voorsitter, die drie adjunk-voorsitters en voorsitter van die federale raad.