Die DA se raadslid in die Barberton-munisipaliteit, Philip Minnaar, het bevestig dat ‘n goedgekeurde professionele persoon en die senior bestuurder van die damveiligheidskantoor van die departement van water en sanitasie vandag nog ‘n terrein besoek sal doen om die Senteeko-dam se oorloop na te gaan.
Hy sê alhoewel die dam se watervlakke gedaal het, bly die damstruktuur onstabiel en daarom bly alle voormalige kennisgewings steeds van krag.
Minnaar het in ‘n persverklaring gesê die departement sal op grond van die bevindings ’n formele bevel uitreik aan die grondeienaars, die besproeiingsraad, en alle persone wat in die onmiddellike omgewing van die dam woon.
Hy sê alle rolspelers sal aan die bevel onderhewig wees en verplig word om dit na te kom.
Volgens inligting is De Kaap Besproeiingsraad bewus daarvan dat boere onseker is oor die situasie en duidelikheid benodig om hul boerdery-aktiwiteite dien-ooreenkomstig te beplan.
Minnaar sê daar sal spoedig terugvoer gegee word.
Fotokrediet: Barberton Munisipaliteit