Luister nou

Polisie sal nie rus tot waarheid oor moorde ontbloot is

Deur Seugnet van Zyl

Agt van die nege vroue wat onlangs aan die Oos-Rand vermoor is, is intussen geïdentifiseer. Sewe name is bekendgemaak, een word nog weerhou tot die naasbestaandes in kennis gestel is. Drie mense, waaronder twee vroue, is gearresteer.

Die moorde het landwyd en internasionaal opslae gemaak. Die Verenigde Nasies (VN) het dit veroordeel en pres. Cyril Ramaphosa het die moorde as ’n nasionale krisis verklaar.

Ná die laaste slagoffer se lyk op 15 September in Dawn Park gevind is en die moorde pal in die nuus was, het dit skielik stil geword.

Prof. Christiaan Bezuidenhout, kriminoloog aan die Universiteit van Pretoria, hou vol dat daar nie met sekerheid gesê kan word of dié vroue deur ’n reeksmoordenaar vermoor is nie. Hy gee toe dat sekere eienskappe wat partykeer in reeksmoorde gesien word ook by sommige van hierdie liggame teenwoordig is, maar hou voet by stuk dat dit nie genoeg beslissende feite is om al hierdie moorde aan een reeksmoordenaar toe te skryf nie.

Bezuidenhout benadruk weer dat daar eers bevestig kan word of ’n reeksmoordenaar die vroue vermoor het wanneer die polisie dit bo redelike twyfel kan bewys en elke moord aan die persoon kan koppel met waterdigte bewyse soos DNS.

Hy sê dat daar dalk in die nabye toekoms van die liggame aan een persoon gekoppel word, maar sover is verskeie persone gearresteer en aan twee van die liggame gekoppel.

“Omdat ons moordsyfer so hoog is, moet ons versigtig wees om dit te vinnig aan ’n reeksmoordenaar toe te skryf. Daar word gemiddeld 60 mense per dag in Suid-Afrika vermoor, en ses tot elf van hierdie slagoffers is vroue.”

Bezuidenhout verduidelik dat hierdie moorde a-tipiese moorde is. Hierdie moorde gaan met emosie en sensasie gepaard.

“Emosionele reaksie word dikwels gekoppel aan hierdie tipe moorde. Wat gaan die polisie doen? Is ons veilig? Daar is baie veranderlikes wat in ag geneem moet word om sodoende korrelasies tussen die moorde te kan tref. Die mens se brein is geprogrammeer om eenvoudige oplossings te vind vir komplekse situasies. Mense het instinktief ’n natuurlike behoefte aan eenvoudige oplossings vir ingewikkelde gebeure. Eenvoudige antwoorde en voorgestelde menings of oortuigings bied vir ons ’n gevoel van beheer en vrede. Ongelukkig is daar in komplekse sake soos hierdie soveel veranderlikes wat met elke liggaam in gedagte gehou moet word. Dis wat die ondersoeke onmenslik moeilik maak.”

Ofskoon ons polisie gebuk gaan onder verskeie uitdagings, waaronder personeeltekorte, glo Bezuidenhout die polisie in Suid-Afrika is gerat om reeksmoorde op te los.

“As ’n reël los ons polisie hierdie tipe moorde redelik vinnig op.”

Syfers wissel, maar lande soos Suid-Afrika, Amerika, Brittanje, Australië en Rusland is van die lande ter wêreld waar die meeste reeksmoorde gepleeg word.

Lt.genl. Tebello Mosikili, waarnemende nasionale adjunkpolisiekommissaris, sê dis net ’n kwessie van tyd voordat die polisie diegene verantwoordelik vir die aanvalle en moorde op die vroue sal aankeer.

Mosikili sê die ondersoek sal nie aangejaag word bloot sodat arrestasies gemaak kan word nie.

“Ons is dit aan die slagoffers en hul families verskuldig. Ons is dit aan hulle verskuldig om die waarheid uit te vind. Ons is dit aan hul families verskuldig om geregtigheid te laat seëvier. En ons skuld dit aan elke vrou en meisie in hierdie land om alles in ons vermoë te doen om hulle teen geweld te beskerm. Die multidissiplinêre span wat aangestel is om dié moorde te ondersoek, is met ervare speurders, spesialiste en ander misdaadkundiges versterk. Ons sal nie rus nie.”

Die slagoffers:

  1. Busisiwe Mahlangu is op 15 Julie 2026 in Kempton Park gevind.
  2. Itumeleng Kekana is op 3 Augustus in Kempton Park gevind.
  3. Nomfesane Mjobo is op 26 Augustus in Kempton Park gevind.
  4. Op 7 September is ’n onbekende vrou se liggaam in die Clayville-rivier naby Olifantsfontein gevind.
  5. Gracious Nkomo is op 10 September in Kempton Park gevind.
  6. Elizabeth Moselakgomo is twee dae later op 12 September ook in Kempton Park gevind.
  7. Skaars twee dae later op 14 September later is nog ’n vrou, wie se naam nog nie bekend gemaak kan word nie totdat haar familie van haar dood ingelig is, in Olifantsfontein gevind.
  8. Dineo Motapane is ’n dag later op 15 September in Kwa-Thema naby Springs gevind.
  9. Jabulile Ntimba is op 17 September in Dawn Park gevind.

 

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/09/NUUSWEEK-Uitgawe-85-25-Sept-2026.pdf

Gewilde Nuus

Internasionale Perspektief nuut

Kan die ongemaklike linkse huwelik hou?

Graffiti-logo-nuut

Graffiti-boekeblad 25 September 2026

Rooikruis

Kritiek pla Roets nie

National Mall

3 000 wit kruise vandag in Washington geplant

James Kemp

Daar is nie ’n “Afrikanerdebat” nie

Ander Nuus Artikels

Sakekamer
Suid-Afrika is onredbaar maar gemeenskappe kan self
AfriForum
Bozell sien hoe AfriForum plaasmoorde bekamp
Internasionale Perspektief nuut
Kan die ongemaklike linkse huwelik hou?
Graffiti-logo-nuut
Graffiti-boekeblad 25 September 2026
Rooikruis
Kritiek pla Roets nie

Luister nou