‘n Opname oor sportweddenskappe in Suid-Afrika het bevind dat dié aktiwiteit ‘n beduidende aanlyn-oplewing beleef.
Dis veral onder dobbelaars tussen die ouderdomme van 18 en 34 jaar oud wat dié vorm van dobbelary selfs gewilder is as die Nasionale Lotery.
Volgens dié meningsopname – wat deur InfoQuest onderneem is – het 48% persent van die respondente gesê dat hulle meer gereeld as ‘n jaar gelede dobbel.
63% het aangedui dat hulle geld gebruik – wat vir ander noodsaaklike uitgawes bestem was – om mee te dobbel. Luidens die opname dobbel die respondente gemiddeld sowat 11 keer per maand – op hierdie sportweddenskappe-platforms.
Die Nasionale Lotery se gemiddeld is sowat 10 keer per maand en is meer gewild onder ouer gebruikers van 35- tot 65 jaar oud. 37% van alle dobbelaars het aangedui dat hulle ekstra geld tot hulle beskikking het waarme hulle kan dobbel, wat dus beteken dat 63% van dobbelaars geld gebruik wat eintlik vir noodsaaklikhede bedoel is.
Suid-Afrika se dobbelinkomste – insluitend casino’s en aanlyn sportweddenskappe – sal vanjaar na verwagting R64-miljard beloop.