‘n Groot deel van Suid-Afrikaners se maandelikse salarisse word gebruik om hulle skuld te delg.
Volgens die maatskappy, Eighty20 se skuldverslag vir die vierde kwartaal, beloop Suid-Afrikaners se totale skuld sowat R2,5-triljoen. Hierdie verslag kyk na die uitwerking van ekonomiese gebeure op Suid-Afrikaners se sak, en hoe dit verbruikerspatrone verander.
20-miljoen Suid-Afrikaners het sowat 51-miljoen lenings, met ‘n uitstaande balans van R2,5-triljoen. Luidens die verslag is die paaiement tot netto-inkomste sowat 30%, wat beteken dat mense, met krediet, ‘n derde van hulle netto-salarisse gebruik om hulle skuld te delg.
Die direkteur van Eighty20, Andrew Fulton, sê Suid-Afrika staar ‘n reuse ekonomiese krisis in die gesig. Die werkloosheidskoers, wat sedert die Covid 19-pandemie drasties gestyg het tot 32,9%, dra grootliks by tot die swak ekonomie.
Volgens Fulton het mense se salarisse nie bygehou met die veranderende ekonomie nie, wat bydra tot die groeiende skuld.
Die verslag dui verder aan dat baie min Suid-Afrikaners vir skuldberading gaan. In 2024 het net sowat 200 000 mense uit die 20-miljoen Suid-Afrikaners, met skuld, gekies om van skuldberading gebruik te maak.