14 Maart 2025
Riani Lombard van Garsfontein in Pretoria is naarstigtelik op soek na haar troetelslang, Rose, wat Woensdagaand uit haar hok ontsnap het.
Dié eenmeterlange Boa-konstriktor kon die glaspanele van haar hok moeiteloos skuif, nadat die hok by ’n troeteldierwinkel aangepas is.
“Ek het haar hok na die troeteldierwinkel toe gevat en hulle het die hok so bietjie aangepas. Ek het ’n reptielverhittingsmat gekoop wat hulle moes installeer. Die winkel het my aangeraai om die hok vir minstens ses ure nie te gebruik nie en ek het vir Rose eers in haar krat by die huis gesit waarin sy altyd is as sy nie in haar hok is nie. Toe ek haar 23:00 in die hok terugsit het ek gesien die glaspanele lyk effens anders en hulle skuif nogal maklik. Ek het deur die aand so drie keer by haar gaan inloer, maar sy het die glaspanele geskuif gekry en uitgekom,” vertel Lombard.
Lombard sê sy hoop dat Rose nog iewers in die huis is, maar die kans is goed dat sy uitgeglip het, omdat die skuifdeur na buite vir hulle 3 katte oopstaan.
Lombard het ’n emosionele verantwoordelikheidsin teenoor Rose, omdat sy vir Rose by haar vriendin – wat vanjaar oorlede is – geërf het.
“Dit maak my hartseer, want ek was veronderstel om na die slang te kyk en toe ek nou die hok na die troeteldierwinkel toe vat en die hok terugkry toe is hy nie meer hoe hy was nie. Ek gaan soek tót ek haar kry.”
Lombard doen ’n beroep op inwoners van Pretoria-Oos om op die uitkyk te wees vir Rose in die omgewing van Rooigras-, Keeshond- en Serenestraat en vra dat hulle haar sal kontak as hulle vir Rose gewaar óf vir Rose na die naaste veearts sal neem, maar sy vra mooi dat hulle nie vir Rose sal doodmaak nie.
“Ek haal haar elke dag uit haar hok uit. Elke oggend as ek op pad is kombuis toe om koffie te maak en broodjies te maak vir skool vryf ek haar en sê ek vir haar goeiemôre. Sy is baie vriendelik, sy is nie giftig nie, sy is ’n liewe slangetjie.”
Luister die radiogesprek hier: