Uittreksel uit Geheime van die Wonderboom (ongepubliseer) deur Riana Mulder
Díe naam “Wonderboom” is eers deur die Voortrekkers aan die groot ou wildevyeboom gegee, en dit is dus moeilik om verwysings na die boom in vroeër geskiedenisboeke op te spoor. Die berge, riviere en ander natuurverskynsels het natuurlik eers ander name gehad.
Ons weet egter van ‘n hele paar bekende besoekers aan die omgewing voor die eerste Voortrekkers hulle op plase noord van die Magaliesberg kom vestig het. Dit sal moeilik wees om te glo dat enige van hulle onbewus was van die bestaan van die boom terwyl hulle in die omgewing rondgereis het, want die boom was baie sigbaar- selfs van ver af.
Die Potgieterpatrollie van 1836 was waarskynlik die eerste Voortrekkergroep wat die boom gesien het, en ook die naam gegee het. Volgens familie-oorlewering van een van die patrollie-lede, kon die ruiters reeds van ver af die reuseboom teen die hange van die Magaliesberg sien.
Hierdie patrollie van elf man, onder leiding van A.H.Potgieter en J.G.S.Bronkhorst, was op pad terug na die Vrystaat ná ‘n besoek aan die kamp van Louis Trichardt te Soutpansberg. Dit was in Augustus 1836, en hulle het uiteindelik deur die Wonderboompoort en die Daspoort teruggery Vrystaat toe. Díe twee poortname is dan ook van die oudste Afrikaanse plekname in Pretoria.
Soos reeds genoem het Mzilikatse in die 1820’s drie statte in Pretoria se omgewing aangelê, onder andere een in die omgewing net suid van die Wonderboompoort waar Les Marais vandag is. In 1829 is hy deur die bekende sendeling Robert Moffat besoek. Dit is baie waarskynlik dat Moffat self een van die Wonderboom se vroegste besoekers was, alhoewel hy min aandag aan die omgewing gee in sy weergawe van die besoek.
Sewe jaar later het ook Majoor William Cornwallis Harris, ‘n Britse offisier op verlof uit Indië, die Pretoria-omgewing besoek. Hy het dit beskryf as ‘n “jagtersparadys” wat wemel van wild, en dit is waarskynlik dat hy die boom sou gesien het.
‘n Natuurkundige, Charles Zeyher was tussen die jare 1839 en 1842 gedurig in die omgewing om voorbeelde van verskillende boksoorte en ander flora en fauna te versamel, en hy is ook in 1842 vergesel deur Joseph Burke. Die Wonderboomgebied was beskryf as een van Zeyher se gunsteling versamelplekke.
Teen 1841 word die bakens van 70 plase in die Pretoria-omgewing uitgelê, onder andere díe van die plaas Wonderboom wat verdeel sou word tussen die Erasmus-tweeling, Louw en Doors. Hulle vestig hulle egter eers teen ongeveer 1847 daar.
Die storie word vertel dat ‘n smous, ene mnr. Menne, in ongeveer 1843 onder die boom uitgekamp het. Hy het tussen 1843 en 1850 gereeld die gebied besoek terwyl hy vanaf Pietermaritzburg tot in die destydse Noord-Transvaal gesmous het.
Op hierdie spesifieke reis was hy besig om ‘n paadjie deur die poort te bou. Laataand het hy en sy helpers nog om die vuur gesit toe ‘n swartrenoster skielik die kring binnestorm en die vuur begin doodtrap. Die vee het verskrik weggestorm, en almal wat om die vuur gesit het, het uitmekaargespat (sommige het sekerlik in die takke van die boom skuiling gesoek!). Die renoster self het gelukkig net vir ‘n ruk doodstil gestaan, en toe weer weggestorm.
Mulder is die redakteur van Pretoria Historia wat gelees kan word by www.pretoriahistoria.com.