Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê hulle het twee versoeke by die nasionale minister van samewerkende regering ingedien vir ’n provinsiale rampverklaring.
Dit hou verband met ’n waterkrisis in die Suid-Kaap en veldbrande regoor die provinsie. Winde sê die watersituasie is ’n groot bron van kommer in Knysna – waar slegs sowat ’n week se bruikbare water oor is – sowel as Langeberg en Bitou.
Winde sê hy gaan die aansoeke vanmiddag aan die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Velenkosini Hlabisa, oorhandig om noodfondse te ontsluit. Die provinsie wil ook sy weerbaarheid teen droogte en brande versterk, terwyl lae reënval vir vanjaar voorspel word.
Fotokrediet: David Harrison