Jaco Kleynhans
Daar is goeie en slegte redes waarom baie mense teen die VSA en Israel se militêre operasie in Iran gekant is. Goeie redes sluit in vrese vir groter destabilisering in die Midde-Ooste, die risiko van langdurige hoë oliepryse en probleme met lewering van olie en gas deur die seestraat van Hormoes, vrae oor of ’n militêre operasie nou die beste strategie was om Iran tot sy sinne te bring, en verder verskillende argumente oor die geldige redes van ’n eensydige militêre aanslag en die morele regverdiging daarvoor.
Daar is egter ook baie slegte redes waarom mense teen die militêre operasie gekant is, wat dikwels verband hou met ’n algemene afkeur in enigiets wat president Donald Trump aanpak, vreemde samesweringsteorieë oor Jode, neocons, Epstein en die sogenaamde militêre industriële kompleks en allerhande idees oor Amerikaanse . Nog swak argumente teen die militêre operasie, wat dikwels nie goed deurdink is nie, maar duidelik in die sleurstroom van anti-Amerikaanse intervensionisme ingeneem word, sluit in vergelykings met onder andere die Irak-oorlog, ʼn algemene onderspeling van die bedreiging wat die regime in Teheran lank reeds vir verskeie rolspelers inhou en die feit dat Trump nie Amerika se bondgenote in sy besluit geken het nie.
Dit is daarom nou nodig om van die ernstigste mites oor die oorlog te weerlê.
Mite 1: Iran het geen wesenlike bedreiging vir Israel, die VSA en die Golflande ingehou nie.Hierdie mite ignoreer die regime se rewolusionêre visie en militêre kapasiteit. Iran is reeds vir jare vasbeslote om ʼn dominante rol in die Golfgebied te vestig deur militêre netwerke wat vrye navigasie van onder andere die Straat van Hormoes, maar ook ander strategiese weë soos die Rooi See en die Golf van Aden in die Arabiese See bedreig. Dit raak nie net Amerikaanse ekonomiese belange nie, maar ook die stabiliteit van bondgenote van die VSA regoor die wêreld. Dink maar onder andere wat gebeur het toe die Houthi-rebelle ʼn paar jaar gelede met steun van Iran skeepsvaart deur die Rooi See probeer verhoed het.
Die Islamitiese regime in Iran is die wêreld se grootste ondersteuner van terreur deur sy steun aan proksies in Jemen, Irak, Sirië, Lebanon en die Palestynse gebiede. Oor jare het Iran se steun aan hierdie groepe tot permanente onstabiliteit en konflik gelei.
Iran het egter ook sy eie militêre program die afgelope paar jaar dramaties uitgebrei en met die hulp van Rusland en China ʼn reuse- ballistiese missielprogram ontwikkel. Iran het ook groot vordering gemaak in sy pogings om uiteindelik ʼn kernwapen te vervaardig.
Mite 2: Daar was ander maniere om Iran in toom te hou.
Diplomatieke pogings en sanksies het misluk. Die sagte benadering van Barack Obama en Joe Biden het net vir Iran tyd gekoop om nog meer missiele en lanseerders te bou, meer aanvalshommeltuie te ontwikkel en vordering met sy kernprogram te maak. Watter alternatief het Trump en Israel gehad as om die regime in Iran in sy spore te stuit? Soos wat die hoofredaksie van die Britse Telegraph onlangs geskryf het: “Internasionale reg is ’n swak verskoning om niks te doen nie.”
Verder moet ʼn mens ook vra hoeveel geweld teen burgerlikes en massaslagtings van betogers moes nog in Iran plaasvind voordat die internasionale gemeenskap sou sê, genoeg is genoeg. Trump het in Januarie die regime gewaarsku om mense nie massaal dood te maak nie, maar steeds is duisende mense afgemaai. Êrens moes die skrikbewind van die brutale veiligheidsmagte in Teheran stopgesit word.
Mite 3: Trump en sy regering het geen plan gehad met die inval in Iran nie.
Inteendeel, Operasie Epic Fury was goed beplan met duidelike doelwitte: die vernietiging van Iran se missielbedryf, vloot en oorblyfsels van die kernprogram, plus neutralisering van terreurproksies. Die operasie is oor baie jare beplan en in die fynste besonderhede uitgewerk. Trump het dit bloot geaktiveer. Dit is verder duidelik dat Trump nie in die “Irak-slaggat” wou trap nie, maar juis die operasie met ʼn onderhandelde skikking wou beëindig nadat genoeg skade aangerig is en die regime genoeg verswak is, sodat ʼn beter regering in Teheran gevestig kon word. Die afgelope vier weke se militêre operasie was geen impulsiewe inval nie, maar ’n berekende veldtog.
Mite 4: Iran is onderskat.
Sommige kritici beweer dat die VSA en Israel Iran onderskat het, maar die teendeel is waar. Binne ʼn maand is die helfte van Iran se leierskap doodgemaak, sy lugafweerstelsels, vloot en lugmag is vernietig en meer as 90% van sy aanvalskapasiteit is uitgeskakel. Iran is nou swakker as ooit sedert die 1980’s se Iran-Irak-oorlog en dit kan soveel as twintig jaar vir die land neem om sy verlore militêre kapasiteit te herbou. Die oorlog het die regime se vermoë om ander Golflande te intimideer, drasties verminder.
Mite 5: Die VSA en Israel is nie besig om hulle oogmerke te bereik nie.
Dit is tog duidelik dat die VSA en Israel ʼn uiters geslaagde militêre operasie tot nou toe uitgevoer het. Meer as 80% van Iran se missiellanseerders is vernietig, die meeste vlootskepe is gesink, Iran se lugmag is byna heeltemal vernietig, groot wapenopslagplekke, insluitende stoorruimtes van hommeltuie en missiele, is heeltemal verwoes, groot skade is aan kernfasiliteite aangerig en baie topleiers is doodgemaak.
Daar word reeds vordering gemaak met die beveiliging van die seestraat van Hormoes en indien Iran se vermoë om ʼn skrikbewind in dié seestraat te voer vernietig kan word, kan dit van groot waarde in die toekomstige uitvoere van olie- en gas wees. Lande soos Saoedi-Arabië, die Emirate, Bahrein, Koeweit en Katar voel almal baie sterk daaroor dat Iran nooit weer toegelaat moet word om soveel militêre invloed oor dié seestraat uit te oefen nie.
Die militêre operasie teen Iran is ’n historiese geleentheid vir langtermyn-streekstabiliteit. Korttermynprobleme met hoë oliepryse is baie sleg, maar uiteindelik kan oliepryse oor die langtermyn baie laer en stabiel bly indien Iran se bedreiging vir eens en vir altyd dramaties ingeperk, indien nie heeltemal uitgeskakel nie, kan word.
Kleynhans is die hoof van openbare skakeling by Solidariteit.