Luister nou

VSA kan steeds die land van vryheid én tuiste van die dapperes wees

Deur Redaksie

Francis Scott Key het in 1814 ʼn gedig geskryf nadat die Amerikaanse magte tydens die bombardement van Fort McHenry ʼn deurslaggewende 25 uur lange Britse vlootaanval kon weerstaan. Die gedig “Defence of Fort M’Henry” het later die Amerikaanse volkslied geword. Die beginsels van vryheid en dapperheid (“the land of the free and the home of the brave”) en die wyse waarop dit nou by mekaar ingeweef is en direk met mekaar in verband staan, het die afgelope 250 jaar die grondslag vir die ontwikkeling van die Verenigde State van Amerika (VSA) tot die magtigste Westerse supermoondheid gevorm. Is die VSA vandag nog die land van vryheid en ʼn tuiste van dapperheid? Die antwoord hierop sal die toekoms van die VSA en die hele Westerse beskawing oor die volgende paar jaar bepaal.

Hierdie naweek vier die VSA sy 250ste verjaardag. Op 4 Julie 1776 is die Verklaring van Onafhanklikheid in Philadelphia, Pennsilvanië, aanvaar. Hierdie viering is ʼn geleentheid om terug te kyk na die beginsels wat ʼn klein groepie koloniste in 13 kolonies geïnspireer het om teen die magtigste ryk ter wêreld op te staan. Hoe ver het die VSA vandag van sy oorspronklike strewe, waardes en grondslae afgewyk, en is herstel nog moontlik?

Die aanloop tot die Verklaring van Onafhanklikheid is gedurende die 1760’s en vroeë 1770’s deur groeiende spanning tussen die 13 kolonies en die Britse Ryk gekenmerk. Die Britse parlement het belasting op die kolonies gehef sonder dat hulle enige verteenwoordiging in die Britse parlement geniet het. Die Seëlwet van 1765, die Townshend-wette en veral die belasting op tee het protes ontlok. Die Boston Teeparty van 1773 en die daaropvolgende “Intolerable Acts” het die woede onder die koloniste laat toeneem.

In April 1775 het die eerste skote by Lexington en Concord geklap. Die Tweede Kontinentale Kongres van die kolonies het in Philadelphia vergader en op 7 Junie 1776 ʼn mosie vir onafhanklikheid aanvaar. Twee dae later is ʼn komitee van vyf aangestel, naamlik John Adams, Benjamin Franklin, Thomas Jefferson, Robert Livingston en Roger Sherman, wat die Onafhanklikheidsverklaring moes opstel.

Jefferson, die hoofopsteller, het die eerste konsep tussen 11 en 28 Junie geskryf. Die Verklaring self is ʼn meesterstuk van verligtingsdenke, maar is diep gewortel in ʼn Christelike en klassieke erfenis. Dit verklaar “all men are created equal” en “endowed by their Creator with certain unalienable Rights”. Die kern van die Amerikaanse Onafhanklikheidsverklaring was dat elke individu die reg op lewe, vryheid en die najaag van geluk moes hê.

Dit is ʼn groot denkfout om die Amerikaanse Vryheidstrewe en die Amerikaanse Onafhanklikheidsoorlog as bloot ʼn reaksie op Britse belastings en die afwesigheid van verteenwoordiging in die Britse parlement te bestempel. Dit het oor veel meer gegaan, en in besonder oor ʼn breuk met die ou orde van oorheersing, sentralisering, politieke hiërargie en die misbruik van mag in Brittanje en die hele Ou Wêreld. Die Nuwe Wêreld, en eintlik die VSA, moes die beginsel aanhang dat regering slegs bestaan om burgerlike regte te beskerm en dat regerings in die VSA hul mag én mandaat om te regeer altyd van die mense self moes ontvang.

Daarom lui die Onafhanklikheidsverklaring ook dat wanneer ʼn regering tiranniek word, die volk die reg en plig het om dit te verander of af te skaf. Amerikaanse onafhanklikheid in 1776 was nie net ʼn politieke breuk nie, maar ʼn morele en teologiese onafhanklikheidsverklaring: regte kom van die Skepper, nie van die staat nie. Regerings skep nie utopiese samelewings nie, maar beskerm vryhede.

Die stigtersvaders wou ʼn republiek skep, nie ʼn demokrasie nie. Die VSA moes dus ʼn stelsel van verteenwoordiging, wigte en teenwigte, asook ʼn beperkte regering versinnebeeld. Die Grondwet van 1787 en die Bill of Rights van 1791 het ʼn federale republiek geskep waar magte tussen die sentrale regering en die deelstate verdeel is, met die deelstate as oorspronklike soewereine entiteite.

Die Amerikaanse Burgeroorlog, die Progressiewe Era, die New Deal van Franklin D. Roosevelt en die Great Society van Lyndon B. Johnson het die federale regering dramaties uitgebrei en dikwels die oorspronklike beginsels van die VSA verwater. Die federale administratiewe staat het gegroei, die instel van ‘n inkomstebelasting (16de wysiging van die Grondwet) het ʼn permanente inkomstebron vir die federale regering geskep en die Hooggeregshof het dikwels federale mag uitgebrei ten koste van die deelstate.

In die afgelope dekades het hierdie tendense versnel. Groter sentralisasie het plaasgevind deur ʼn opgeblase federale burokrasie, regulasies en ʼn administratiewe diepstaat. Geen president sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog kon nog hierdie situasie suksesvol omkeer nie.

Thomas E. Woods Jr. skryf in Nullification: How to Resist Federal Tyranny in the 21st Century oor die reg van deelstate om ongrondwetlike federale wette nietig te verklaar, soos wat Jefferson en Madison in die Kentucky en Virginia Resolutions van 1798 gedoen het. Die oorspronklike federalisme van die VSA is egter die afgelope 100 jaar grotendeels vervang deur ʼn nasionalistiese, sentralistiese model. Nou in 2026 ontstaan die vraag om deelstate weer die moed bymekaar begin skraap om die oorspronklike regte wat hulle toekom op te eis?

Massa-immigrasie sedert die 1960’s het die etniese en kulturele samestelling van die VSA dramaties verander. Pat Buchanan, een van die skerpste kritici van massa-immigrasie, het reeds in sy 1992 “Culture War”-toespraak gewaarsku dat die “great American Melting Pot is not melting” en dat Amerika die risiko loop om ʼn “conglomeration of peoples with almost nothing in common” te word. Sekularisering het ook hand aan hand gegaan met hierdie veranderinge. Die toekomstige stryd in die VSA is ʼn stryd tussen die ou Amerika van Judeo-Christelike waardes en ʼn nuwe, sekulêre, progressiewe orde. Die afgelope paar dekades het die stedelik-plattelandse verdeeldheid ook verskerp. Stede is oorwegend liberaal, sekulêr en demografies divers, terwyl die platteland meer tradisioneel, godsdienstig en konserwatief bly. Hierdie kloof weerspieël dieper kulturele en politieke polarisasie.

Ten spyte van hierdie verdelings en uitdagings bly die VSA ʼn land met ongeëwenaarde potensiaal. Die land se geografie, sy historiese basis, regeringsmodel, desentralisasie, vryemarkbeginsels en natuurlike intuïsie vir innovasie bly sterk. Die stigters se beginsels van beperkte regering, individuele regte, federalisme en ʼn kulturele erfenis gewortel in die oorspronklike bronne van die Westerse beskawing, leef steeds voort in die instellings van die VSA.

Die 250ste herdenking van die VSA se onafhanklikheid is ʼn geleentheid vir feesviering, maar ook vir herontdekking en ʼn terugkeer na die stigtingsbeginsels van die Verklaring van Onafhanklikheid. Dit gaan moeilike besluite noodsaak, dapperheid vereis en ʼn hernude liefde vir vryheid vra. Die VSA se toekoms word van binne bedreig, maar bewerings van sy ondergang is voortydig. Mag die wêreld se mees indrukwekkende nasie hierdie naweek lekker feesvier, maar ook ernstig besin.

Laat ons saam met Amerikaners weer sing: “And the rockets’ red glare, the bombs bursting in air, Gave proof through the night that our flag was still there; O say does that star-spangled banner yet wave, ⁠O’er the land of the free and the home of the brave?”

 

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/07/NUUSWEEK-Uitgawe-73-03-Jul-2026.pdf

Gewilde Nuus

Graffiti-logo-nuut

Boekeblad met Graffiti 3 Julie 2026

Fotokrediet: Rising Sun Newspapers

Die SAID sê alles verloop klopdisselboom

Fotokrediet: The Times of Israel

Reddingspanne red man na agt dae onder puin in Venezuela

Fotokrediet: EWN

Sterrekundiges ontdek twee reusagtige eksoplanete

Tsunami - die reddingshond - Venezuela

Tsunami red 13 uit aardbewingpuin

Ander Nuus Artikels

Koos Malan
VSA se buitelandse beleid terug op koers
DevHoof
Polisie se langsdienende vlieënier vereer
Graffiti-logo-nuut
Boekeblad met Graffiti 3 Julie 2026
Fotokrediet: Rising Sun Newspapers
Die SAID sê alles verloop klopdisselboom
Fotokrediet: The Times of Israel
Reddingspanne red man na agt dae onder puin in Venezuela

Luister nou