Meer as 670 politieke partye sal mekaar op 4 November die stryd aansê om vir die 10 526 setels landswyd te wedywer. En die besluit oor wie daardie setels sal opneem, berus by die meer as 29 miljoen geregistreerde kiesers. 754 000 van hierdie kiesers het vanjaar vir die eerste keer geregistreer. En terwyl die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) regmaak om die verkiesingsproses te fasiliteer, word daar bespiegel oor hoe die politieke landskap ná 4 November kan lyk.
Gabriel Makin, ’n navorser verbonde aan die Social Research Foundation (SRF), sê hy sal baie verbaas wees as meer as een metro, buiten Kaapstad, nie deur ’n koalisie regeer word nie. Volgens die SRF se jongste peiling staan die DA se steun tans op 36% en die ANC s’n op 22%. ActionSA, wat al by monde van hulle partyleier, Herman Mashaba, gesê het dat hulle nie met die DA se kandidaat, Helen Zille, sal saamwerk nie, staan op 9%.
Makin sê Zille se kans om sonder die ANC in Johannesburg aan bewind te kom, is skraal, maar dat sy ook besef dat Johannesburg in die toestand is wat hy is omdat die ANC daar aan stuur van sake staan. Die kanse dat sy dus mense in posisies sal plaas waar hulle voorheen drooggemaak het, is net so skraal. Volgens Makin is die groot vraag of Zille op stemdag daarin sal slaag om haar kiesers by die stembus te kry en of die ANC se ontnugterde kiesers tuis gaan bly.
Die SRF skat die DA se steun op 32% in die Tshwane-metro en dié van die VF Plus op 7%. Op ’n vraag oor of die twee partye ’n koalisie sal kan vorm sonder die ANC, wat in die laaste peiling op 26% van die steun gestaan het en ActionSA, met hulle 12%, sê Makin dat dié tipe peilings altyd op ’n foutmarge van 3,5% onderneem word. Hy sê die kanse is skraal dat die DA en die VF Plus ’n koalisie sonder ’n derde vennoot kan vorm, maar dat die moontlikheid nie heeltemal uitgesluit is nie.
Makin sê verder dat die politiek in Suid-Afrika, en spesifiek in die metro’s, tans baie veranderlik is en dat die peiling nie as ’n voldonge feit beskou moet word.
“Daar is ’n moontlikheid dat enigiets nog in die verkiesing kan gebeur.”
Intussen lyk dit of die MK-party dalk die burgemeestersketting in die eThekwini-metro ná die verkiesing kan opneem. Die SRF reken die MK-party kan in dié gebied 43% van die steun op hulle verenig en eNCA-Markdata se peiling dat dié party selfs 48% van die steun kan kry. Die SRF plaas die DA op 28%, die ANC op 13% en die IVP op 7%, terwyl eNCA-Markdata reken die DA kan 25,2% van die steun kry en die ANC 14,5%.
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek –https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/10/NUUSWEEK-Uitgawe-90-30-Okt-2026.pdf