Luister nou

Ouers smeek vir ’n veilige skool

Deur Seugnet van Zyl

Ouers, onderwysers en belanghebbendes van die Hoërskool Breërivier in Worcester het die week ’n dringende versoekskrif om die skool te beveilig aan die onderwysdistrik oorhandig.

Hulle dring in die versoekskrif aan dat ’n geëlektrifiseerde beton-omheining met toegangshekke en kringtelevisiekameras so gou moontlik om die skool opgerig moet word.

Groot gedeeltes van die heining is op verskillende plekke reg rondom die skool gesteel, wat ’n ernstige veiligheidsrisiko’s vir leerlinge en personeel veroorsaak. Leerlinge kan gevolglik baie maklik die skoolterrein tydens skoolure verlaat en terselfdertyd kan vandale, kriminele en ongemagtigde persone ook maklik die skoolterrein betree.

Ouers skryf in die versoekskrif aan Gregory Kannemeyer, direkteur van die Kaapse Wynlande-onderwysdistrik van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, dat die gebreekte heining hulle veral bekommer omdat dit ’n negatiewe uitwerking op hulle kinders se akademiese prestasie en vordering kan hê, omdat hulle vryelik die skool kan verlaat.

Nico Hendricks, adjunkhoof van die Hoërskool Breërivier, sê om sake te vererger, is dié skool in ’n bendegeteisterde gebied geleë.

Ouers sê dat bendes ook die skoolterrein as ’n plek van oorlogvoering gebruik.

Volgens die ouers breek daar gereeld gevegte ten aanskoue van hulle kinders en personeel op die skoolterrein uit. Baie keer word die gevegte met vuurwapens en ander wapens uitgevoer, wat die kanse vergroot dat leerlinge of personeel in die spervuur kan beland en beseer kan word.

“Wanneer hierdie gevegte uitbreek, veroorsaak dit totale chaos by die skool en gevolglik gaan kosbare onderrigtyd verlore. Dit het ’n massiewe emosionele impak op leerlinge en personeel. Talle leerlinge en personeel is getraumatiseer deur hierdie gevegte en onttrek hulle dan aan die akademie en skoolaktiwiteite, of hulle kan bloot nie meer konsentreer en hul beste gee nie weens die vrees dat hulle dalk ’n slagoffer van hierdie gevegte kan raak,” lui ’n gedeelte uit die versoekskrif as motivering.

Die gebrek aan ’n heining bekommer die belanghebbendes voorts omdat skooleiendom en infrastruktuur gereeld oor naweke en skoolvakansies gesteel of gevandaliseer word, wat die skool groot finansiële skade berokken. Vrylopende honde, skape en bokke hou ook verdere veiligheids- en gesondheidsgevare in.

Die stap om ’n versoekskrif aan Kannemeyer te oorhandig, volg nadat bendes op 15 en 20 Oktober op die skoolterrein slaags geraak het.

In die mees onlangse voorval het ’n 16-jarige seun, ’n gr. 9-leerling in dié skool, verlede Donderdag saam met bendelede met wie hy glo bande het, onderwysers en die skoolhoof met die dood gedreig en hulle met klippe bestook. Video’s van dié voorval is wyd op sosiale media gedeel.

Volgens Hendricks was die seun sedertdien nog nie weer by die skool nie.

“Hierdie voorvalle is absoluut abnormaal. Ons moet toegangsbeheer terugkry. Sodra die seun by skool opdaag, sal die prosesse aan die gang gesit word om die seun se gedrag volgens die gedragskode te hanteer.”

Dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) sê dié seun moet in diep nood verkeer wat veroorsaak het dat hy so ver gegaan het.

“Dis ook hartseer dat ’n skoolgemeenskap deur hierdie trauma moet gaan. Skole staan nie buite gemeenskappe nie. Maatskaplike euwels in gemeenskappe en kwessies wat kinders by die huis beleef, word op een of ander manier by die skool uitgeleef.”

Sy raad is dat ’n gemeenskap as vennote moet saamstaan om kriminele elemente, intimidasie en viktimisasie te bekamp.

Op die foto oorhandig Ignelda February die versoekskrif van ouers, onderwysers en belanghebbendes om die Hoërskool Breërivier te beveilig aan Gregory Kannemeyer, direkteur van die Kaapse Wynlande-onderwysdistrik van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement.

 

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek –https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/10/NUUSWEEK-Uitgawe-90-30-Okt-2026.pdf

Gewilde Nuus

Internasionale Perspektief nuut

Kiesers orals is kwaad

Graffiti-logo-nuut

Graffiti-boekeblad 30 Oktober 2026

Fotokrediet: Rolling Stone

Sir Patrick Stewart, Star Trek- en X-Men-ster, op 86 oorlede

Nhlanhla Mkhwanazi

Mkhwanazi binnekort nuwe hoof van die Valke

Fotokrediet: The North Africa Post

Solidariteit voer samesprekings met die Withuis oor Agoa

Ander Nuus Artikels

V (4)
Al meer gemeenskapsbewegings mik stembus toe
IEC
Koalisies is ons voorland
Internasionale Perspektief nuut
Kiesers orals is kwaad
Graffiti-logo-nuut
Graffiti-boekeblad 30 Oktober 2026
Fotokrediet: Rolling Stone
Sir Patrick Stewart, Star Trek- en X-Men-ster, op 86 oorlede

Luister nou