Luister nou

Al meer gemeenskapsbewegings mik stembus toe

Deur Seugnet van Zyl

(Foto: Adriaan Roets Johan van Niekerk en Annelie Botha van die Bela-Bela Alliansie)

Al hoe meer gemeenskapsgedrewe organisasies registreer nou dié organisasies as politieke partye in die hoop om setels in hulle dorpe se munisipaliteite in volgende week se plaaslikeregeringsverkiesings te wen.

Cederberg Eerste, Mafube First en die Bela-Bela Alliansie is drie gemeenskapsorganisasies wat op dié roete besluit het. Al drie partye is dit egter eens dat hulle as gemeenskappe saamstaan al het hulle nou die politiek betree. Hulle sê hul gemeenskappe is keelvol vir politiek.

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus, verduidelik dat daar ’n herkonfigurasie van die politieke proses is.

“Ons sien geweldig baie kleiner groepe deelneem aan die verkiesing. Daar is ’n versplintering. Jy sien dat kleiner gemeenskapsgroepe na vore tree en begin om te kompeteer en deel te neem. Dis definitief aan die gebeur.”

Duvenhage sê hy is oortuig daarvan dat van die kleiner partye setels gaan wen.

“Ons staan in ’n tyd van verandering. In ’n omgewing van koalisies kan ’n setel hier en ’n stem daar ’n verskil maak, wat soms ’n beduidende impak kan maak op die politieke proses.”

Adriaan Roets, Bela-Bela Alliansie (BBA) se hoof van bemarking en strategie, sê die BBA is nie soseer ’n politieke party nie, maar ’n inwonergerigte munisipale beweging. Die BBA is in September vanjaar gestig.

Volgens Roets beoog die BBA se proporsionele lys van 18 kandidate om in al nege wyke van Bela-Bela mee te ding.

“Bela-Bela Alliansie is ’n gemeenskapsgedrewe beweging wat Bela-Bela eerste stel. Ons dorp. Ons mense. Ons toekoms. Meer aksie. Minder politiek. Ons munisipaliteit moet soos ’n besigheid funksioneer.  Ons kan doen wat nodig is in dié dorp.”

Roets verduidelik die BBA se manifes.

“Elke verkiesing bring nuwe beloftes. Paaie sal herstel word. Water sal verbeter. Elektrisiteit sal betroubaar word. Tog gaan baie munisipaliteite agteruit. Die probleem is nie ’n tekort aan idees nie. Die probleem is professionele munisipale bestuur.”

Hy sê die BBA is gegrond op ’n praktiese munisipale bestuursfilosofie, waar inwoners sal kan sien hoe dié party tot ’n munisipale stelsel verbind is.

“Ons wil vertroue herstel, infrastruktuur herbou en plaaslike regering versterk. Die Grondwet vereis reeds ’n munisipaliteit wat demokratiese en verantwoordbare regering, volhoubare dienste, maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling, ’n veilige en gesonde omgewing en gemeenskapsbetrokkenheid lewer. Daardie pligte het nie nuwe wette nodig nie. Dit het leierskap nodig wat erns daarmee maak.”

Die BBA is bereid om met ander politieke partye kragte saam te snoer, maar wil eers op eie stoom aan die verkiesing deelneem.

Om die Mafube-munisipaliteit, wat dorpe soos Frankfort, Villiers, Tweeling en Cornelia in die Vrystaat insluit, het Oupa Mokuena, ’n gemeenskapsleier, Mafube First as ’n gemeenskapsorganisasie op die been gebring om dié dorpe van verdere ondergang te red en die belange van inwoners eerste te stel. Die Mafube-munisipaliteit is in 2022 onder administrasie geplaas. Mokuena sê die naam van dié party sê alles.

“Dis om Mafube eerste te stel. Ons is van die gemeenskap vir die gemeenskap. ’n Stem vir Mafube First is ’n stem vir jouself.”

Mokuena is die leier van Mafube First en Hans Pretorius, ’n boer, is die voorsitter.

“Ons is keelvol vir die regerende party en ons vertrou nie politici nie.”

Volgens hom is hulle party die kleinste van die 17 ander politieke partye wat in die komende verkiesing wyke in die Mafube-munisipaliteit gaan betwis.

Hy is egter vol vertroue dat Mafube First wyke gaan wen.

Dr. Ruben Richards, onderburgemeester van die Cederberg-munisipaliteit, wat dorpe aan die Weskus-distrik insluit soos Clanwilliam, Citrusdal, Lambertsbaai, Wuppertal, Graafwater en Elandsbaai, het in 2021 Cederberg Eerste (CE) op die been gebring. CE het 70 dae later aan sy eerste plaaslike verkiesing deelgeneem en Richards is as uitvoerende burgemeester ingehuldig.

Richards is in Junie verlede jaar deur Azrial Scheepers van die ANC as burgemeester vervang.

“Uit ons ervaring hoef plaaslike regering nie deur ’n gevestigde party se belange gedomineer te word nie. Inwoners se belange kom eerste en ’n gebroke munisipaliteit kan omgekeer word. ’n Munisipaliteit kan herstel word, maar slegs as inwoners bekwame, geloofwaardige en verantwoordelike leiers kies, leiers wat mense se belange voor politiek stel.”

Hy sê die Cederberg-munisipaliteit is ’n voorbeeld van ’n munisipaliteit wat kan herstel.

“In ’n enkele termyn het die Cederberg-munisipaliteit, wat finansiële verknorsing en wanadministrasie in die gesig gestaar het, ’n skoon oudit gekry. Dienslewering is herstel, kontantreserwes is opgebou, terwyl ’n surplus aangeteken is. Die ommeswaai ná twee dekades van verwaarlosing, is onmiskenbaar, en die grondslag vir volhoubare herstel en ekonomiese groei is gelê. Dis een ding om iets te sê en iets anders om te doen. Ons is hier om ons mense te red en ons sal alles doen om ons mense te dien.”

Hy vertel trots van Choose CX, wat in CE se voetspore volg en in dié verkiesing vir wyke in Knysna gaan meeding, en Langeberg Eerste, wat inwoners in Montagu, McGregor, Bonnievale, Robertson en Ashton se belange eerste wil stel.

 

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek –https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/10/NUUSWEEK-Uitgawe-90-30-Okt-2026.pdf

Gewilde Nuus

Graffiti-logo-nuut

Graffiti-boekeblad 30 Oktober 2026

Fotokrediet: Rolling Stone

Sir Patrick Stewart, Star Trek- en X-Men-ster, op 86 oorlede

Nhlanhla Mkhwanazi

Mkhwanazi binnekort nuwe hoof van die Valke

Fotokrediet: The North Africa Post

Solidariteit voer samesprekings met die Withuis oor Agoa

Israel verkiesing - Alhurra

Israel se verkiesing eindig in dooiepunt

Ander Nuus Artikels

IEC
Koalisies is ons voorland
Internasionale Perspektief nuut
Kiesers orals is kwaad
Graffiti-logo-nuut
Graffiti-boekeblad 30 Oktober 2026
Fotokrediet: Rolling Stone
Sir Patrick Stewart, Star Trek- en X-Men-ster, op 86 oorlede
Nhlanhla Mkhwanazi
Mkhwanazi binnekort nuwe hoof van die Valke

Luister nou