16 Maart 2025
Die boa-konstriktor, Rose, wat Woensdagaand uit haar hok ontsnap en haar eienaar, Riani Lombard van Garsfontein in Pretoria, naarstigtelik na haar laat soek het, is kort ná 10:00 vanoggend ongedeerd gevind.
Dít, nadat ’n 29-jarige inwoner van Waterkloofrif, Melissa Grobler, gisteraand haar hulp aangebied het om Rose te soek en vroeg vanoggend by Lombard se huis opgedaag en met vars oë die soektog voortgesit het.
Rose het toe nie die natuur gaan verken – soos vermoed is nie – sy het toe soos ’n lui slang in die rekenaarboks op die tafel langs haar hok ingekruip en daar gedut.
Lombard het Woensdagaand ’n emosionele boodskap op die Facebookgroep, Ek’s van die Ooste geplaas waarin sy gevra het dat Oosters hulle oë moet oophou vir Rose en haar nie moet leed aandoen nie, nadat dié eenmeterlange konstriktor vermoedelik ontsnap het, nadat sy haar opgeknapte hok se glaspanele oopgeskuif gekry het.
Lombard sê hulle het ván Woensdagaand af oral in en om die huis – selfs in die aand met flitsligte – na Rose gesoek.
Sy sê sy’s uit haar vel van blydskap en diep dankbaar vir Grobler se hulp.
“Ons het tót in die banke en kaste gekyk en hier kry Melissa en my kinders haar in die rekenaarboks opgekrul soos ’n donut. Toe Melissa die boks vat en sê Rose is daar, toe glo ek haar eers nie, want sy was bo-op die hardeskywe opgerol. Ek kon dit nie glo nie,” sê Lombard.
“As dit nie vir Melissa was nie, sou Rose daar doodgegaan het, want sy was so in die kabels ingekoek en dis ’n klein spasie. Sy sou nie vanself weer daar kon uitkom nie.”
Lombard sê die Oosters se warmte het haar verstom en sy’s dankbaar vir almal se ondersteuning en hulp.
Grobler – wat vir diere leef – sê sy kan nie die gevoel beskryf wat sy ervaar wanneer ’n dier gehelp of gered word nie.
“Ek help altyd waar ek kan met dierereddings. Ek is gek oor diere en sal enigiets doen om hulle te help. Dit was die beste gevoel toe ek vir Rose gewaar én besef het dat sy ongeskonde en gelukkig is.”
Sy hoop om veterinêre verpleegkunde aan die Universiteit van Pretoria te gaan studeer.
“Ek wou nog altyd met diere werk, maar toe ek jonger was het my allergieë ál erger geraak en toe is ek bang ek sal dit nie kan doen nie. Maar nou, jare later, ervaar ek al hoe meer dat ek met diere moet en wil werk, maak nie saak van ’n allergie nie. Omdat ek reeds ’n graad het, word daar net twee mense per jaar vir hierdie studierigting aanvaar. Maar ek is nie van plan om op te hou probeer nie. Diere is my passie.”
Rose het – hoewel sy uit vrye wil uit haar hok geglip het – baie gelukkig gelyk om gevind te word. Sy het onmiddellik in haar waterbak gaan lê om te hidreer.
Foto’s: Riani Lombard