1 Augustus 2025
Die Tshwane-metro gaan teen die hooggeregshof in Pretoria se uitspraak – wat sy omstrede stadskoonmaakheffing gister met onmiddellike ingang geskrap het – appelleer.
Die burgemeesterskomiteelid vir omgewing en landboubestuur, Obakeng Ramabodu, sê die metro glo vas dat ’n skoonmaakheffing wat daarop gemik is om die instandhouding van vullisterreine te verbeter ’n stap in die regte rigting én nodig is vir ’n veilige en skoon stad vir almal.
Ramabodu sê in ’n mediaverklaring dat ’n skoonmaakheffing nie tot die Tshwane-metro geïsoleer is nie én dat ’n soortgelyke heffing tussen 2016 en 2021 in die stad deur die vorige plaaslike regering ingestel is wat nou dié heffing kritiseer.
Die metro sê hy sal teen die hofuitspraak appelleer ter wille van ’n skoon stad.
Dié aankondiging deur die metro kom nadat die hooggeregshof die stadskoonmaakheffing onwettig en ongeldig verklaar en dit ter syde gestel het.
Die burgerregteorganisasie AfriForum het die aansoek gebring om die verpligte maandelikse heffing van R194,37 (BTW uitgesluit) wat op nagenoeg 260 000 huishoudings en ondernemings ingestel is ter syde te laat stel.
AfriForum het aangevoer dat die heffing neerkom op onwettige en onbillike dubbele belasting, veral in gevalle waar inwoners nie enige voordeel uit die metro se vullisverwyderingsdiens getrek het nie en gedwing is om van privaat diensverskaffers gebruik te maak.
One Response
Die ANC moet net sy mense opvoed om nie plastiek en bottels oral neer te smyt nie.
Hoekom wil hulle die inwoners belas terwyl hulle nie un staat is om beter te beplan nie.