Luister nou

Rubio waarsku dat Weste dalk laaste kans op oorlewing het

Deur Redaksie

Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Marco Rubio, het die afgelope tyd ’n reputasie ontwikkel vir groot Europese toesprake. In Februarie vanjaar het Rubio in München in ’n toespraak die toekoms van Europa, ekonomies en wat veiligheid aanbetref, op ’n sinvolle manier gekoppel aan die herlewing van die Westerse beskawing. Verlede week het hy dit voortgesit met ’n toespraak op die historiese Pnyx in Athene, die heuwel waar die antieke Atheense volksvergadering eens byeengekom het en wat tot vandag as die bakermat van Westerse demokrasie beskou word. Agter Rubio was die ruïnes van die Parthenon en die Akropolis – jy kon moeilik vir ’n beter beeld vra indien ’n Amerikaanse leier in Europa ’n toespraak oor die Weste wou kom lewer.

Rubio se toespraak in Athene was egter ernstig en waarskuwend. Dit was ’n oproep tot die Weste om sy wortels te herontdek en die pad van agteruitgang te verwerp.

Die toespraak het gekom te midde van grootskaalse linkse studenteprotes in Frankryk en toenemende kommer oor die toekoms van die Weste soos krisisse wat verband hou met massa-immigrasie, lae bevolkingsaanwas, ekonomiese stagnasie, onvolhoubare welsynstate, enorme skuldvlakke en die onvermoë van talle Europese lande om hulself teen eksterne aggressie te verdedig, wat daagliks verdiep.

Rubio het in sy toespraak die Weste by ’n kruispad geplaas. Die besluite wat oor die volgende dekade geneem gaan word, het hy gesê, sal bepaal of die Westerse beskawing sy plek as leiersbeskawing in die wêreld gaan behou of bloot sy wegkwyning en agteruitgang sal aanvaar.

Hy het antieke Griekse waardes, naamlik heroïsme, eer, plig en thumos (die vuur van passie, krag, moed en trots), gekoppel aan ’n nie-verskoonbare nastrewe van nasionale mag onder president Donald Trump in die VSA. Daardeur het Rubio Europese leiers daaraan herinner dat nasionale samehang, trots en mag noodsaaklik is om die beskawing in stand te hou en ook bedreigings van buite af te weer. Volgens Rubio is daar niks selfsugtig in ’n benadering waar eie, nasionale belang, lojaliteit teenoor jou eie volk en die verdediging van sy belange bo die abstrakte “globale gemeenskap” geplaas word nie. Die Weste het, volgens hom, oop grense geskep, nywerheidsproduksie uitgekontrakteer, militêre mag laat verval, monumente afgebreek en sy eie geskiedenis veroordeel, terwyl Westerse lande se soewereiniteit aan verre burokrasieë oorgedra is.

Die hedendaagse krisis in die Weste

Rubio se diagnose van ’n diepliggende krisis in die Weste stem ooreen met ’n breër gesprek onder historici en kommentators. Die Weste staan voor verskeie uitdagings: massa-immigrasie, demografiese ineenstorting, die verval van Christenskap en tradisionele moraliteit en waardes, en ’n diep verlies aan selfvertroue.

Demografie is sentraal. Vrugbaarheidskoerse in die meeste Westerse lande is ver onder die vervangingsvlak van ongeveer 2,1 kinders per vrou. Niall Ferguson verwys in sy boek Civilization: The West and the Rest na die Westerse bevolking as ’n krimpende minderheid van die wêreld, terwyl verouderende samelewings met onvolhoubare skuldvlakke en fiskale druk worstel. Immigrasie bied ’n korttermynoplossing vir arbeidstekorte, maar Ferguson waarsku dat dit nie die onderliggende probleem van lae geboortekoerse oplos nie.

Douglas Murray argumenteer in The Strange Death of Europe dat Europa “selfmoord” pleeg deur die kombinasie van massamigrasie (veral uit die Midde-Ooste en Noord-Afrika) en ’n diep kulturele uitputting. Europa het geloof verloor in sy eie tradisies, legitimiteit en Christelike erfenis. Die “tirannie van skuld” weens kolonialisme en die Tweede Wêreldoorlog het Europa verlam. Daarom word grense nie beheer nie en is daar geen poging meer om die identiteit van Europa te verdedig nie.

Ben Shapiro het verlede week Rubio se toespraak geprys as een van die beste van die afgelope jare en dit gesien as ’n herinnering dat Westerse prestasies nie ’n bron van skaamte is nie. Die gesaghebbende Wall Street Journal (WSJ) se hoofartikel verlede Woensdag het Rubio se toespraak as die toespraak van die jaar beskryf.

Die WSJ haal Rubio soos volg aan: “Hier, in Athene, het ons die eerste volle verwesenliking gevind van al die wesenlike eienskappe wat die Weste sou definieer – individualiteit en onvermoeide ambisie; gewaagde verkenning en uitvinding; ’n verlange na ontdekking, na avontuur, risiko en glorie; ’n onversadigbare nuuskierigheid oor die wêreld en die beginsels waarvolgens dit funksioneer; ’n honger om die raaisels van die natuur te ken en die geheime van die kosmos te begryp.”

Hy het hierdie eienskappe vervolgens in verband gebring met die prestasies van die Weste: “Dit was die grondslag van die Westerse denke: ons wiskunde, ons wetenskap, ons geneeskunde. Ons filosofie, etiek en godsdiens. Dit was die fondament van die rykdom van die Christelike teologie — van Augustinus en Aquinas, en die hele tradisie van natuurreg.”

Geen staatshoof van ’n Europese land sou die afgelope tyd hierdie temas sentraal stel tot ’n toespraak oor die toekoms van die vasteland en sy mense nie. Nee, daar word hoofsaaklik gepraat oor eksterne bedreigings soos veiligheidsbedreigings deur Rusland of die storting van Chinese goedere in die Europese mark of die uitdagings met onwettige immigrasie.

Maar Rubio se boodskap verlede week was duidelik: Die Weste moet terugkeer na sy wortels en homself heel voordat hy eksterne gevare kan aanpak.

Rubio is dit eens met Ferguson, Murray, Shapiro en andere dat Westerse agteruitgang ’n keuse is. Die vraag is of Europa – en die breër Weste – die thumos sal herwin om te wíl voortbestaan. Dit is sekerlik moontlik maar soos Rubio gewaarsku het, die tyd is besig om baie vinnig uit te loop.

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek –https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/10/NUUSWEEK-Uitgawe-88-16-Okt-2026.pdf

Gewilde Nuus

Fotokrediet: Freedom Front Plus

Die VF-Plus kritiseer die Konstitusionele Hof se besluit

DNS-toetse

Slegs 1,5% van polisiediens se DNS-toetse betyds verwerk

Fotokrediet: Smile FM

SASSA se nuwe betaaldatums vir November aangekondig

Fotokrediet: Facebook

Iran is versigtig vir die VSA se aanval

Airlink-verbyvlug

BLO handel ondersoek na Airlink se verbyvlug af

Ander Nuus Artikels

Graffiti-logo-nuut
Graffiti-boekeblad 16 Oktober 2026
Fotokrediet: Daily Maverick
Suliman Carrim in hegtenis geneem
Fotokrediet: Freedom Front Plus
Die VF-Plus kritiseer die Konstitusionele Hof se besluit
DNS-toetse
Slegs 1,5% van polisiediens se DNS-toetse betyds verwerk
Fotokrediet: Smile FM
SASSA se nuwe betaaldatums vir November aangekondig

Luister nou